Onervare afrigters gee SA min hoop

Superrugby logoDaar is na Vrydag presies agt weke oor voordat die nuwe Super18-reeks afskop, en daar is geen ooglopende rede waarom Suid-Afrikaanse ondersteuners met vertroue na die kompetisie kan uitsien nie.

Die uitstekende klompie jong spelers wat in 2016 hul stempel wil afdruk, sal seker  eers oor ʼn jaar of twee eers werklik ryp vir rugby op dié vlak wees.

Maar dis veral die feit dat die ses Superafrigters van Suid-Afrikaanse spanne saam net drie jaar se ondervinding op die vlak het wat jou tot pessimisme vir die Superveldtog stem.

Dit is duidelik dat dit ʼn voel-voel jaar kan wees.

Johan Ackermann, nog natterig agter die ore as ʼn hoofafrigter, is verreweg die senior onder die ses Superafrigters – en hy het maar laasjaar sy eerste treë in die reeks gegee en vanjaar heeltemal skaflik met sy jong Lions gevaar. (  In 2013 was die Lions sonder Superrugby met die Southern Kings wat in hulle plek gespeel het. Ackermann was toe ook aan die stuur.)

Gary Gold het vanjaar in die baie deurmekaar Sharkskamp sy eerste proesel as afrigter van ʼn Superspan gehad; en Robbie Fleck (Stormers), Nollis Marais (Bulls), Franco Smith (Cheetahs) en Deon Davids (Southern Kings) maak hulle debuut as Superrugby-hoofafrigters.

Smith was darem in die Cheetahs se laaste twee Superwedstryde vanjaar aan die stuur na Naka Drotské se bedanking as hoofafrigter maar het nog nie werklike ervaring van afrigting in  die reeks nie.

Van die vier nuwelinge het Smith en Marais vanjaar hul unies se Curriebekerspanne afgerig. Smith was darem in die Cheetahs se laaste twee Superwedstryde vanjaar aan die stuur na Naka Drotské se bedanking as hoofafrigter.

♦ Die grootste druk in wat as die wêreld se strafste kompetisie beskou word, sal ongetwyfeld op Fleck wees. Hy was assistentafrigter wat na die agterlyn moes omsien onder Allister Coetzee.

Dis nie verregaande om te sê dat Fleck nooit in dié rol oortuig het nie. John  Mitchell, toe hy vroeër in die jaar met die Stormers onderhandel het voordat hy ná die Eddie Jones-drostery weer deur die Kapenaars genader is, het sy eise gestel: ʼn vierjaarkontrak, en asseblief tog ook die reg om sy eie assistente en ondersteuningspersoneel aan te wys.

Dit sou die uitbetaling van huidige personeel, waaronder Fleck, teen miljoene rand beteken het.  Die Stormers het nee gesê.

Fleck is vanjaar nie as die Westelike Provinsie se vir die Curriebekerafrigter aangestel nie en John Dobson is verkies. En nou is hy aan die hoof van ʼn span wat van sy beste spelers, ondermeer die 2015-Superkaptein Duane Vermeulen en die rooikop-loskop Steven Kitshoff, vir 2016 verloor het.

Hy het boonop die taak om te verbeter op die eina-rekord van sy voorganger Allister Coetzee, wat in vyf uitspeelwedstryde net een keer die wenafrigter was. En of Fleck, wie se taak die agterlyn in die eerste plek sy ou verantwoordelikheid was, as die nuwe afrigter meer drieë vir die Stormers kan genereer, sal gesien moet word.

♦ Franco Smith (Treviso, Italië) en Gary Gold (London Irish, Newcastle en Bath) was darem hoofafrigters van klubs in Europa. Maar die Superreeks het meer wedstryde,  verg meer spelerbestuur, fiksheidsbeplanning oor ses maande – insluitende tydens die inkomende toer wanneer daar geen Superrugby in Junie is nie – en veeleisende oorsese reise.

Gold sit met ʼn Sharksspan wat groot name en onderpresteerders soos die Du Plessis-broers Jannie en Bismarck en die ewig-beseerde Willem Alberts verloor het. Hulle het Pieter-Steph du Toit – ʼn ligpunt vir die Stormers – verloor. Marco Wentzel, een van hul vele kapteins laas seisoen, se jare het hom ingehaal.

En dit gaan ʼn goeie sportsielkundige kos om die franchise te laat presteer ʼn Duidelike negatiwiteit is maar alte duidelik in die Durbanse geledere te bespeur.

Franco Smith (Foto: pro12rugby.com)

Franco Smith (Foto: pro12rugby.com)

♦ Smith kán afrig. Hy het die Varsitybeker met sy Shimlas gewen, maar dit is darem nie op Curriebekervlak nie. Dáár het Smith se Vrystaat Cheetahs die halfeind gehaal en die Goue Leeus op Ellispark redelik skrikgemaak.

Maar, en dis ʼn groot maar: In ʼn seisoen wat deur die Leeus, die Blou Bulle en die WP oorheers is, het die Vrystaat net drie uit tien wedstryde gewen.

♦ Johan Ackermann? ʼn Vars bries word gesê, en dit is ʼn wonderlike waarheid. Hy gaan in  die 2016-Superreeks ʼn meer ervare groep met nóg beter vaardighede en meer diepte tot sy beskikking hê.

Die Lions, ondanks hulle gewildheid oor hul opwindende hardlooprugby, sal egter moet leer drieë druk ook. In die 2015-reeks het net die Stormers van die plaaslike franchise’e minder drieë gedruk.

Die Lions het, soos in 2014, ook net twee drieë-bonuspunte in hul 16 wedstryde verdien – die minste in van die SA franchise’e.

♦ Nollis Marais het, soos Fleck, reeds sukses op laer vlakke soos die Varsitybekerreeks (twee opeenvolgende titels), o.21s (drie nasionale titels) en in die Vodacomreeks (halfeindstryd) behaal.

Soos Ackerman en Smith se spanne het die Blou Bulle onder Marais begin hardloop.

In die halfeind van die Curriebekerkompetisie het hulle egter platgeval – hoofsaaklik omdat die druk van die WP die jong Bulls weer na die ou gewoontes van hoogskop-en-storm laat terugkeer het.

Daar is nog baie werk voordat die vaardighede oop die regte vlak is, soos marai ook erken het. En hy het groot aantal ervare manne verloor.

♦ Deon Davids was hoofsaaklik met junior spanne gemoeid, en as hulpafrigter  by die SA o.20-span, die Opkomende Springbokke, die SA Studente en die Afrika-Luiperds betrokke.

Sy taak is die regruk van ʼn Southern Kings-groep wat dun om die lyf is en wat nog nie eers heeltemal gefinaliseer is.

♦ ʼn Aanduiding van hoe die krag SA rugby beskou word, is die (gelyk) agste plek op 14/1 wat die beroepswedders meen die kanse is van ʼn Suid-Afrikaanse span is om die Superreeks te wen. Die drie spanne is die Stormers, die Bulls en die Sharks.

Die Lions (25/1) word die 13de beste kans gegee, die Cheetahs is 14de (66/1) die Kings is saam met die Sunwolves heel laaste (100/1).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Suid Afrikaanse rugby is om ‘n engelse uitdrukking te gebruik ‘the author of their own misfortune’ want waar NZ se superspanne lankal bekend is word daar in Suid Afrika nog na spelers gesoek en bly die ‘koop ‘n span beleid’ by uitstek die metode om ‘n mededingende span in die veld te stoot.

Dit is dan ook die kleiner Unies en die Leeus en Cheetahs wat die meeste hierdeur geraak word en is die Sharks,Stormers en Bulls die grootste sondaars in die opsig want hul beskik
oor genoeg finansies om groot aanbiedinge te maak maar kom met die vallende Rand ook onder groter druk om spelers te behou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.