Onluste beïnvloed ook CB-toernooi

Verskeie Curriebeker-wedstryde is afgelas. Foto: GB Jordaan.

Die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het ook ’n negatiewe invloed op die Curriebeker-toernooi en ’n hele paar wedstryde het in die slag gebly.

In die jongste verwikkeling is die kragmeting tussen die Goue Leeus en die Vrystaatse Cheetahs in Johannesburg afgelas, terwyl die vroue-eindstryd (óók tussen die Leeus en die Cheetahs) uitgestel is.

Vroeër het SA Rugby (Saru) in ’n verklaring gesê dat die kragmetings tussen die Haaie en die Pumas in Durban, sowel as die Blou Bulle en Griekwas in Kimberley, ook gekanselleer is.

“Ons leef in ongewone tye en hoewel dit nooit goed is om wedstryde te kanselleer nie, het ons nie veel van ’n keuse gehad nie,” het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, gesê.

Hy het voortgegaan om die spanne, borge en uitsaaier vir hul samewerking te bedank om ’n oplossing vir die uitdagings te vind.

Die toernooi se regulasies maak voorsiening vir die kansellasie van wedstryde weens buitengewone omstandighede en ’n telling van 0-elk sal aangeteken word, terwyl ligapunte regverdig tussen die spanne opgedeel sal word.

Intussen het AFP gister berig dat die Britse en Ierse Leeus-toerspan weer eens van hul veiligheid verseker is.

“Daar was gesprekke met die Leeus en veiligheidsmaatreëls is opgeskerp,” het ’n anonieme veiligheidsbeampte gesê.

“Suid-Afrika is ’n groot land en die Wes-Kaap is ver van die gebiede wat die ergste onder die onluste deurloop. Ek sou sê dat dit tans die veiligste deel van die land is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack Russ1 ·

Leeus moet vol punte kry vir die wedstryd. Cheetahs wou nie speel nie. Die Leeus oefen nog die hele week by Ellis Park. Die Leeus het ook aangebied om in Bloem of op ‘n neutrale veld te speel, maar die Cheetahs wou nie.

Leeus was reg om te speel, Cheetahs nie, punte Leeus

Lee ·

Stem 100% saam. Maar kom ons draai die horlosie bietjie terug na wanneer Leeus en Cheetahs moes speel en Leeus het gekanseleer toe Cheetahs al in Johannessburg was. Cheetahs was reg om te speel en Leeus nie maar punte was toe aan beide spanne gegee.Dubbele standaarde?

SwartBees ·

Lee, as ek reg onthou was daai wedstryd afgelas agv cvd19 gevalle in die span. Hier word die onrus as verskoning gebruik.

Jack Russ1 ·

Verseker dubbel standaarde. Die leeus moes daar ook vol punte gekry het. Die leeus het die Cheetahs 3 alternatiewe datums gegee en die Cheetahs het ook besluit om nie te speel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.