Onmin by Valke oor deelname aan Saru-spogreeks

Daar heers onmin in Valke-kringe oor die klub wat die bond in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale klubreeks om die Goue Beker (GB) verteenwoordig.

East Rand United (ERU) se bestuur het Vrydag in ʼn verklaring bekend gemaak dat hy Vereeniging, die bond se kampioen en aangewese GB-deelnemer, se reg betwis om aan die Saru-reeks deel te neem.

Dis egter ʼn ope vraag of Saru in hierdie laat stadium bereid sal wees om sy reëlings deur ʼn geskil van hierdie aard te laat ontwrig.

Met slegs drie weke oor voor die reeks afskop, is dit veral vir die voorsiening van toerusting dat die tyd knap raak.

Die meeste ander deelnemers is lank reeds bekend, en daar is vir die Valke, Boland, Suidwestelike Distrikte en die Westelike Provinsie gewag om hul deelnemers bekend te maak.

Vereeniging het die eindstryd in die Peregrineliga teen ERU in ʼn spannende stryd met 26-24 gewen, en die Valke-rugbyunie het hom as sy deelnemer benoem.

Die naaswenner voer nou aan dat Vereeniging nie voldoen aan die vereistes wat die Goue Bekerreeks stel nie, en het vertoë tot die Valke gerig om die kampioen se deelname te stuit, en ERU “wat aan al die vereistes voldoen” in die GB-reeks te laat speel.

Dat die twisappel die getal spelers van kleur in die onderskeie spanne is, kan vrywel aanvaar word, al blyk dit nie uit ERU se verklaring nie.

Koos Bosman, ʼn woordvoerder van Vereeniging, twyfel nie oor die Valke-rugbyunie se aanvaarding van die kampioen se deelname aan die GB-reeks nie.

Kwotavereiste

“Die Peregrineliga by die Valke het sy eie reëls. Nêrens in die reekshandleiding word daar verwys na ʼn bepaalde getal kwotaspelers in die liga nie.

“Daar word wel verwys na die Goue Beker se kwotavereiste. Tot enkele weke gelede was die Goue Beker se reëls dat daar vier kwotaspelers in ʼn klub moet wees. Hierdie Valkereël bestaan al die afgelope paar jaar,” het Bosman aan Pale Toe! gesê.

“Dit is toe deur Saru verander na agt spelers in ʼn oefengroep van 30 spelers. Die getal bly egter dieselfde op wedstryddag met vier in die spangroep van 22.

Bosman sê die nuwe reël is die Maandag voor die eindstryd met die twee spanne bespreek, en ERU het geen beswaar aangeteken nie.

“Die vraag ontstaan waarom ERU eers nadat hy die eindstryd verloor het kapsie maak. Die spanlyste was reeds die Vrydagoggend op die Valke-stelsel beskikbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.