Onmin kan Stormers in Superrugby knou

Allister Coetzee

Allister Coetzee

`n Paar probleme in die Kaapse kamp kan `n stok in die span se wiel steek vir vanjaar se Superkompetisie. Bo-aan die lys is Allister Coetzee se huidige ontevredenheid en sy skynbaar voorgenome vertrek na Japan.

In rugbykringe word gesê dat dit `n “oop geheim” onder afrigters in Suid-Afrika en Japan is dat Coetzee hom aan die einde van Julie as afrigter in die plek van Gary Gold (Sharks) by die Kobelco Steelers sal aansluit. Hy het glo reeds die Stormers se bestuur ingelig.

Supersport berig minstens deel van Coetzee se redes is glo sy ontevredenheid oor die aanstelling van Paul Treu as verdedigingsafrigter in die plek van Jacques Nienaber – `n besluit waaroor hy nie geraadpleeg is nie.

Behalwe vir Treu se aanstelling, is die politieke inmenging waarvoor Kaapse rugby berug isglo ook vir Coetzee `n steen des aanstoots. Hy is ook ontevrede oor sy magsverlies toe Gert Smal bo hom as direkteur aangestel is en sterk ingegryp het in die Stormers en die WP se spelpatroon – hoewel dit ten goede was.

Treu het geen ondervinding van vyftienman-rugby nie en is twee jaar gelede deur Saru so te sê afgedank as breier van die Blitsbokke. Die spelers het glo ook geen vertroue in Treu se vaardighede nie en Coetzee sal `n dubbele rol moet speel totdat Treu meer ervare is en deur die span aanvaar word.

Greg Hechter, `n goeie vriend van Nienaber, is onlangs as Gert Smal (direkteur) se regterhand aangestel en was verlede jaar die WP se verdedigingsafrigter in die Curriebeker. Die gevoel is dat met Treu in hierdie rol, daar te ver wegbeweeg word van `n stelsel wat gewerk het.

Duane Vermeulen is die Stormers se nuwe kaptein en `n man wat bekend is as `n man wat nie nonsens verduur nie. Hy is lankal die Stormers se leier in verdediging op die veld en word glo deur een van die voorste afrigters beskou as die beste verdedigingsafrigter ter wêreld naas Nienaber. Hy is ook `n hegte vriend van Nienaber en sal reguit sê as hy dink die span is op die verkeerde pad – nog iets wat spanning in die kamp kan veroorsaak.

Coetzee is `n sterk kandidaat om Heyneke Meyer as afrigter op te volg as die Springbokke nie besonder goed (lees: halfeindstryd) in die Wêreldbeker vaar nie. Hy het glo `n onderneming van Saru dat sy rol as afrigter in Japan nie in sy nasionale ambisies se pad sal staan nie.

Die tyd sal ook leer wat die impak van Coetzee se vertrek op die hulpafrigters sal hê. Hulle mag onseker voel oor die invloed wat `n nuwe afrigter op hul loopbane sal hê en dit kan ook `n invloed hê op die rol wat hulle vanjaar moet speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

louis ·

Ek is en sal stormers altyd ondersteun. Miskien het ons n verandering in afrigting nodig, die game spel is so voorspelbaar. voorspoed julle

Martyn du Plessis ·

Ek het verlede jaar al `n paar keer in ander koerante geskryf dat dit tyd is vir Allister Coetzee om te groet. So ek voel glad nie sleg oor hierdie stap nie. Paul Treu as sewes afrigter was goed, maar kan hy dit as `n 15man afrigter doen? ope vraag?, Kom ons gee hom `n kans, maar daar moet uitgespel word, as hy die graad nie maak nie, moet hy groet. WP/Stormers rugby is te belangrik om met paloekas te ploeter. Groot gaan Stormers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.