Onoorwonne Blitsbokke teen Franse in halfeind

springbok-sevens-greenDie Blitsbokke het al hulle groepwedstryde Saterdag in Wêreldrugby se sewesreeks in Wellington gewen om eerste in groep B te eindig. Hulle kom Sondagoggend (02:44) in die kwarteindstryd teen Frankryk te staan.

Die Franse het tweede in groep C geëindig. Die groepwenner Nieu-Seeland sal teen Fidji, wat tweede in die Blitsbokke se groep was, te staan kom.

Klop Suid-Afrika vir Frankryk, wag die wenner van die kwarteindstryd tussen Kanada en Argentinië in die halfeindronde op die Blitsbokke.

♦  In hulle eerste wedstryd Saterdag het die Blitse Japan maklik 33-0 geklop. Teen rustyd was die Suid-Afrikaners reeds 26-0 voor danksy drieë deur Werner Kok, Chris Dry, Philip Snyman en Seabelo Senatla.

In die tweede helfte het Senatla hakskene vir die Japanese gewys deur die lengte van die veld te hardloop vir sy tweede drie.

♦  In die Blitsbokke se tweede groepwedstryd het hulle ook min probleme met Australië ondervind en 28-0 gewen.

Kok het eerste vir die Blitsbokke gaan druk nadat hy ’n bal vorentoe geskop het, wat deur Senatla opgepik is. Hy het op sy beurt weer vir Kok in besit gestel om af te rond.

Teen rustyd sou die Aussies nog gevoel het hulle het ’n kans deur net 0-7 agter te wees, hoewel hulle nooit gelyk het of hulle kon wen nie.

Ná rustyd het Siviwe Soyizwapi, Dylan Sage en Chris Dry ook gaan druk om ’n gemaklike sege aan die Blitsbokke te besorg.

♦  Die Blitsbokke het Fidji in hulle laaste groepwedstryd 31-12 geklop.

Kok het die eerste drie gaan druk nadat Kwagga Smith ’n vinnige tikskoppie neem het. Skaars ’n minuut later het Senatla en kort daarna ook Justin Geduld gaan druk.

Kort voor rustyd het Fidji met ’n drie en doelskop skielik druk op die Blitsbokke geplaas toe hulle slegs 7-17 agter te wees.

Ná rustyd het Fidji weer gaan druk en op 17-12 vir Suid-Afrika met vier minute se speeltyd oor het die gevaarligte geflikker, maar Senatla het sy tweede drie gaan druk nadat hy op ’n losbal toegesak het. Toe Soyizwapi  kort daarna ook gedruk het, was ’n oorwinning vir die Blitsbokke ’n gegewe.

Die kwarteindwedstryde Sondag

01:38 Engeland vs Skotland
02:00 Nieu-Seeland vs Fidji
02:22 Kanada vs Argentinië
02:44 Suid-Afrika teen Frankryk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.