Onoorwonne Blitse na dag van verrassings teen Fidji in kwarteind

Die Blitsbokke het Saterdag in die Kaapstad-stadion al drie sy wedstryde gewen en sal Sondag ná ʼn dag van verrassings in die eerste kwarteind in  die bekerkompetisie teen Fidji te staan kom (12:04).

Engeland en die VSA het ook al drie hulle wedstryde gewen. Engeland en Suid-Afrika is die enigste van verlede week se vier groepwenners in Dubai wat dit Saterdag weer reggekry het. Engeland is die verdedigende kampioen in die Kaapstadse toernooi.

♦  Die rits verrassings het dit ʼn eerste dag gemaak wat tussen die baie groot tellings deur tog heelwat interessante bespiegelinge ingehou het oor wie die kwarteind sal haal.

Die VSA het die All Blacks met 22-0 verniel en toe die Wallabies met 31-14 geklop; Fidji het met 14-22 teen Kanada vasgeval.

Die twee skokke deur die VSA het beteken dat Nieu-Seeland sy laaste twee wedstryde teen Spanje en die Wallabies moes wen om ten minste tweede ná die VSA in hulle groep (B) te eindig; en Australië moes die All Blacks klop om in tweede plek te kwalifiseer.

Die All Blacks het die Wallabies egter gemaklik met 35-12 gewen en uit die kwarteind gehou.

Engeland moes in sy laaste wedstryd minstens gelykop teen Skotland speel om eerste te eindig en het dit met 12-5 reggekry; en Fidji, Kanada, Wallis en Samoa was almal gelyk met een oorwinning elk en met een wedstryd wat vir elk voorgelê het.

Nadat Kanada vir Fidji in hierdie twee spanne se tweede wedstryd van die dag geklop het, moes Fidji sy laaste wedstryd teen Samoa wen om te kwalifiseer en het dit gemaklik reggekry en tweede in afdeling D geëindig.

♦  Hoe sal die Blitsbokke voel oor hulle eerstedag-vertonings? So-so.

Daar was ʼn maklike oorwinning oor Rusland (40-5), waar die Bokafrigter Neil Powell tevrede was dat die manne by hulle struktuur gehou het; ʼn gesukkel in die eerste helfte teen Frankryk, wat stukke beter gespeel het as verlede week, en toe ná ʼn goeie tweede helfte waar die gemaklike aansluiting en gladde hanteerwerk weer op die verwagte vlak was, met 31-5 gewen.

En toe, in die derde wedstryd, reeds verseker van die eerste plek in groep A, het die Blitse net met rukke op alle silinders teen Kenia gevuur. Rustyd was die Blitse slegs met 14-7 voor, maar hulle het nietemin met 26-7 gewen.

♦  Die Blitse het ná die eerste dag die meeste drieë (11, een meer as Engeland se tien en die VSA se nege) gedruk; saam met Engeland die minste afgestaan (twee); die meeste punte (97) aangeteken en met die grootste punteverskil (80) geëindig.

Maar dit is darem ook nie appels met appels vergelyk nie …

Sondag se kwarteindbepalings –

12:04 – Suid-Afrika teen Fidji
12:26 – Engeland teen Nieu-Seeland
12:48 – Kanada teen Frankryk
13:10 – VSA teen Argentinië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet ·

Hoekom speel die Bokke teen Fidji? Hulle het groep A gewen en Fidji het groep D gewen. Hulle moes teen Kanada, wat tweede geëindig het in groep D, gespeel het. Beide Fidji en Kanada het een wedstryd verloor en twee gewen, maar Fidji se punteverskil was beter en moes dus die groep gewen het. Kan iemand help?

Marius Scheepers ·

Kanada het Fidji gewen 22 – 17 gister. Dus is Kanada eerste

Veritas ·

Peet ek dink die rede is omdat Kanada vir Fidji gewen het.

Piet ·

En nou kan julle my kruisig. Maar die die 50% het ook hier sy inslag gehad .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.