Onoorwonne Griekwas verder voor in opstelreeks

`n Verheugde Frank Herne nadat hy die Pumas se eerste drie teen die Blou Bulle gedruk het. (Foto: Hennie Homann/Steval Pumas)

`n Verheugde Frank Herne nadat hy die Pumas se eerste drie teen die Blou Bulle gedruk het. (Foto: Hennie Homann/Steval Pumas)

Griekwas is steeds onoorwonne en het sy voorsprong in die opstellende ronde van die Curriebeker vergroot deur die Welwitschias van Namibië die afgelope week 55-25 te klop.

Die rustydtelling in die Hage Geingobstadion in Windhoek was 38-13 in die wenspan se guns.

Boland is tweede op die punteleer ná sy sege van 56-17 oor die Griffons; en die Pumas derde nadat hy die Blou Bulle 25-13 geklop het.

In die ander wedstryde het die Westelike Provinsie 50-10 teen die Oostelike Provinsie gewen, die Vrystaat 19-13 teen die Sharks, die Valke 32-30 teen die SWD, en die Luiperds 34-32 teen die Grens.

♦ Daar was nooit enige twyfel oor die uitslag in Windhoek nie, met die besoekers wat sommer binne die eerste minuut die eerste van agt drieë gedruk het.

Tiaan Dorfling (skrumskakel) en AJ Coertzen (regtervleuel) het elk `n tweekuns vir Griekwas teen die Biltongboere behaal, en die heelagter Gouws Prinsloo het 15 punte met ses doelskoppe en `n strafdoel bygedra.

♦ Op Bolandpark in Wellington het die Boland net een drie minder, sewe, in sy sege oor die Noord-Vrystaters behaal.

Die Namibiese Wêreldbeker-losskakel Theuns Kotzé se drie doelskoppe en drie strafdoele het hom nes die Griekwa Prinsloo 15 punte besorg.

Die besoekers het die oorhand gehad tot hul haker Khwezi Mkhafu met `n geel kaart vir `n hoogvat gestraf is. Die tuisspan het die geleentheid benut om die hef in die hand te kry en het dit vir die res van die kragmeting behou.

♦ Die Blou Bulle het die eerste kwart van hul wedstryd teen die Pumas op Loftus Versfeld verwoed aangeval en `n voorsprong van 10-0 opgebou.

Daarna het die Pumas egter oorgeneem en die wedstryd oorheers.

Teenoor die soms briljante rugby wat die besoekers gespeel het, was die Bulle se verhaal een van verspeelde kanse en stringe hanteerfoute.

♦ Die WP-losskakel Scott van Breda se twee drieë en vier doelskoppe teen sy gewese span, die OP, het 18 van die Streeptruie se punte op Stadspark in Athlone aangeteken.

Die wenspan het agt drieë teen die OP se een ingeryg.

♦ In die Vrystaatstadion in Bloemfontein was dit die Sharks wat rustyd 8-7 voor was, maar die tuisspan se regtervleuel Jean-Pierre Coetzee het wee keer in die tweede helfte die doellyn oorgesteek om `n sege van 19-13 te bewerkstellig.

Soos in die Griffons se geval was dit `n geel kaart aan die Sharks se buitesenter, Nkululeko Marwana, wat die skaal in die Vrystaat se guns geswaai het.

♦ Elf punte elk deur Carlyle Hendricks (regtervleuel) en Karlo Aspeling (losskakel) het die Valke gehelp om die Suidwestelike Distrikte 32-30 op Outeniekwapark in George te klop.

Hendricks het `n drie en twee strafdoele en Aspeling `n doelskop drie strafdoele aangeteken.

Die tuisspan was binne 12 minute 14-0 voor, maar die Valke het met `n heldhaftige terugvegpoging daarin geslaag om die bordjies te verhang.

Hentzwill Pedro (linkervleuel) het twee drieë vir die Arende gedruk, en Thomas Kean (heelagter) het 15 punte bestaande uit drie elk doelskoppe en strafdoele behaal.

Rhyno Smith in aksie vir die NWU Pukke. (Foto: Varsity Cup)

Rhyno Smith in aksie vir die NWU Pukke. (Foto: Varsity Cup)

♦ Die Luiperds-heelagter Rhyno Smith het die beste oes van die naweek ingesamel toe hy 19 van sy span se punte met `n drie, vier doelskoppe, `n strafdoel en `n skepdoel bygedra het.

In `n ruiling van rolle was dit die Luiperds wat dusver redelik teleurgestel het wat dié keer in die Buffalostad-stadion in Oos-Londen vlam gevat het, terwyl die Grens, ná hy die seisoen goed begin het, teleurgestel het.

Die puntemakers –

Welwitschias 25 (13) – Drieë: Phillip Nashikaku, Francois Wiese, Justin Nel, Jean-Claude Winkler. Doelskop: Nel. Strafdoel: Heinrich Smit.

Griekwas 55 (38) – Drieë: Tiaan Dorfling 2, AJ Coertzen 2, André Swarts, JW Jonker, Stephan Kotzé, Thabo Mabusa; Doelskoppe: Gouws Prinsloo 6. Strafdoel: Prinsloo.

Boland 56 (20) – Drieë: Ryan Nell, Zandré Jordaan, Danwell Demas, Nico Scheepers, Marnus Hugo, Edwin Sass, JC Genade
Doelskoppe: Theuns Kotzé 3, Adriaan Carelse 3. Strafdoele: Kotzé 3.

Griffons 17 (10) – Drieë: Selvyn Davids, Heinrich Roelfse. Doelskoppe: George Whitehead 2. Strafdoel: Whitehead.

Pumas 25 (15) – Drieë: Frank Herne, Reynier van Rooyen, Marcello Sampson, Hoffmann Maritz. Doelskop: Justin van Staden. Strafdoel: Van Staden.

Blou Bulle 13 (13) – Drie: Marquit September. Doelskop: Joshua Stander. Strafdoele: Stander 2.

WP 50 (17) – Drieë: Daniel du Plessis, Devon Williams, Frans van Wyk, Justin Phillips, Luke Stringer, Michael Willemse, Scott van Breda 2. Doelskoppe: Scott van Breda 4, Grant Hermanus.

OP 10 (10) – Drie: Andile Jho. Doelskop: Garrick Mattheus. Strafdoel: Mattheus.

Vrystaat-vyftiental 19 (7) – Drieë: Maphutha Dolo, Jean-Pierre Coetzee 2. Doelskoppe: Sias Ebersohn 2.

Sharks-vyftiental 13 (8) – Drieë: Nkululeko Marwana, Sandile Kubeka. Strafdoel: Tristan Tedder.

SWD Arende 30 (23) – Drieë: Hentzwill Pedro 2, Daniel Roberts. Doelskoppe: Thomas Kean 3. Strafdoele: Kean 3.

Valke 32 (21) – Drieë: Dean Muir, Carlyle Hendricks, Shane Kirkwood. Doelkskop: Karlo Aspeling; Strafdoele: Aspeling 3, Hendricks 2.

Grens 22 (10) – Drieë: Johannes Jonker, Nkoskhona Nofuma, Makazola Mapimpi. Penalty: Masixole Banda, Conversion: Banda 2.

Leopards 34 (20) – Drieë: Wilmar Arnoldi, Johan Deysel, Loftus Morrison, Rhyno Smith. Doelskoppe: Smith 4. Strafdoel: Smith: Skepdoel: Smith.

Opgesomde punteleer –

Griekwas 29, Boland 21, Pumas, 20, WP 19, Vrystaat 17, SWD 15, Griffons 14, Grens 14, Goue Leeus 12, Sharks 12, Luiperds 12, Valke 11, OP 9, Blou Bulle 5, Welwitschias 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.