Onoorwonne Vrystaat, Leeus sal hardloop

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die Goue Leeus veg om die reg om hulle Curriebekertitel oor ʼn week te verdedig; die Vrystaat Cheetahs om onoorwonne te bly en die Curriebeker oor `n week Bloemfontein toe te neem.

Die twee spanne spook Saterdag in Bloemfontein sake uit om ʼn plek in die eindstryd.

Wen die Vrystaat, speel hy tuis in die eindstryd teen die wenner van die Blou Bulle en die Westelike Provinsie wat later Saterdagmiddag op Loftus kragte meet.

Wen die Leeus, speel hulle die eindstryd weg van Ellispark, maak nie saak of die Bulle of WP Saterdag wen nie.

Bloemfontein se halfeind kan ʼn wonderlike wedstryd te wees. Albei spanne glo in hardlooprugby; albei het blink agterlyne wat kan bresse slaan. Die Cheetahs se nuweling-senter Nico Lee en die kaptein Francois Venter is spelskeppers en -brekers in die middelveld. Rohan Janse van Rensburg se kraglopies en vermoë om bresse te slaan het geen bekendstelling nodig nie. Langs hom het Jacques Nel ook vanjaar skielik die aandag getrek.

Vleuels soos Koch Marx, Anthony Volmink, Sergeal Petersen en Raymond Rhule, en die heelagters Andries Coetzee en Clayton Blommetjies beloof om vir hardloopvreugde  te sorg.

Die Vrystaat se lostrio is miskien ietwat meer aggressief met die insluiting van Paul Schoeman, die Leeus s’n beter met die bal in die hand.

In die voorry gaan daar ʼn stryd soos min wees wanneer die Springbok Julian Redelinghuys teen die opkomende loskop-sensasie Ox Nché sak.

Die Leeus se slotte is gewis beweegliker maar is sowat 20kg ligter as die Vrystaatse slotpaar. Die Leeusskrum het twee weke gelede teen die Sharks die eerste keer vanjaar swaar gekry.

As die Leeus kliek, wat die seisoen te min gebeur het, kan daar probleme op die Cheetahs wag. Op hulle beste behoort Venter se span egter te wen en oor ʼn week die Blou Bulle of die WP in Bloemfontein te verwelkom.

Spanne –

Vrystaat Cheetahs
15 Clayton Blommetjies, 14 Sergeal Petersen, 13 Francois Venter (kapt.), 12 Nico Lee, 11 Raymond Rhule, 10 Niel Marais, 9 Shaun Venter, 8 Niell Jordaan, 7 Uzair Cassiem, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo , 4 Justin Basson, 3 Johan Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Ox Nché. Bank: 16 Jacques Du Toit, 17 Charles Marais, 18 Armandt Koster, 19 Henco Venter, 20 Tian Meyer, 21 Fred Zeilinga, 22 Ryno Benjamin, 23 Conrad Van Vuuren.

Goue Leeus
15 Andries Coetzee, 14 Koch Marx, 13 Jacques Nel, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Anthony Volmink, 10 Jaco van der Walt, 9 Ross Cronjé, 8 Fabian Booysen, 7 Cyle Brink, 6 Kwagga Smith (kapt.), 5 Bobby de Wee, 4 Ruan Ackermann, 3 Julian Redelinghuys, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Corné Fourie, 18 Ruan Dreyer, 19 Lourens Erasmus, 20 Ruaan Lerm, 21 Francois de Klerk, 22 Nicolaas Hanekom, 23 Sylvian Mahuza.

Afskop: 15:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Dertien van die Leeus se 23 spelers van die Curriebeker 2015 is weer in die 23 van 2016.
Sommige spelers soos Fabian Booysen en Jaco van der Walt wat laasjaar op die reserwe bank
was is nou in die beginspan.

Van die spelers wat nie vanjaar in aksie is, bevind hulself in Japan.

Waar dit vir die Cheetahs dus ‘n toets is van hul rubykrag met die oog op die Super 18 is dit vir die Leeus ‘n toets van hul reserwekrag om te sien of daar spelers is wat die skoene kan volstaan van die wat nie vanjaar daar is nie.

Cheetahs behoort omdat hul tuisveld voordeel het en langer as ‘n eenheid saamspeel die een deur te trek veral omdat die Leeus voorlangs nie so gedug as laasjaar is nie.

Johan ·

….en daar gebeur dit toe…!!!! Vrystaat verwoes goue leeus in Bloemfontein
Die einste Vrystaat waar springbok keurders niks van weet of wil weet nie.
Nou gaan die volgende gebeur: Geld gaan weer praat en volgende jaar word ‘n klomp Cheetahs verwelkom in Pretoria en Durban
Geluk Cheetahs met julle sprankel rugby vanmiddag…en ek hoop dat die VS rugbyunie gaan veg om Cheetahs in Bloem te hou..!!!
Haaaaaaakkkkkk Vrystaaaaaaat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.