Onoorwonne Wolwe wen Rugby Europatrofee

Portugal het Saterdag seker gemaak van die Rugby Europatrofee, die derde vlak van rugby op dié vasteland, deur al vyf sy wedstryde in die reeks te wen.

Hoewel Blikkies Groenewald en Chris Buitendag se Pole (tans vierde) nog teen Nederland (tans tweede) en Switserland (tans derde) moet speel, kan nie een van dié lande die Wolwe meer inhaal nie.

Portugal het Oekraïne met 31-7 in Odessa geklop, nadat hy rustyd met 14-7 voor was.

Die Oekraïners het `n grootse poging aangewend, en dit was eers in die laaste tien minute dat die Wolwe die oorhand kon kry en nog drie drieë gedruk het.

Francisco Pinto Magalhães, Manuel Vilela, Gonçalo Foro, João Lino en Nuno Penha e Costa het die wenspan se drieë gedruk.
Die Wolwe kon net in hul eerste wedstryd teen Switserland nie vyf drieë vir `n bonuspunt druk nie.

Die span speel op 20 Mei in Brussel teen België met die oog op bevordering tot die reeks om die Rugby Europakampioenskap, die vlak net onder die Sesnasiesreeks.

Portugal was in die 2003-2004-seisoen die enigste span behalwe Georgië en Roemenië wat sedert 2000 die titel op daardie vlak kon wen, en het in 2007 aan die toernooi om die Rugbywêreldbeker deelgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.