Ons bly maar tjoepstil

Die OP vier sy eerste o.19-titel. Is daar vir die spelers plek in die Baai? (Foto: sarugby.co.za)

Die OP vier sy eerste o.19-titel. Is daar vir die spelers plek in die Baai? (Foto: sarugby.co.za)

Die uittog van die OP Kings se beste swart spelers na die Bulls (en moontlik ook ander unies en franchise’e) sal soos manna uit die hemel wees om hul kwota-kaste te vul, maar dit bly ʼn  skandevlek op die rugbybase van die Baai, die SA Rugbyunie en trek ook sommer die sportministerie daarby in.

Om in die jaar 2015 te hoor dat die SA Rugbyspelersvereniging beroepspelers met kospakkies en petrolkoepons aan die lewe moet hou, grens aan die onwerklikheid. Dis nie mynwerkers wat om  mimimum-loon staak nie, dis nie Transnet, Postnet of die SA Lugdiens nie, dis beroepspelers met geldige kontrakte wat hulle nagekom het maar nie voor betaal is nie.

Die Oostelike Provinsie se rugbybaas, Cheeky Watson, sal glo Maandag uit Australië terugkeer waar hy die afgelope paar dae oor ʼn  borgskap onderhandel het. Hoeveel keer vantevore is daardie beloftes  verbreek? Hoeveel keer is die spelers, afrigters en lede van die bestuurspan aan die lyntjie oor die wanbetaling van hul salarisse gehou?

Die gewese All Black-losskakel Carlos Spencer, wat die Kings help afrig het, is in die openbaar gekritiseer toe hy die moed gehad het om te sê dat hy sedert Desember verlede jaar nie sy salaris ontvang het nie.

Volgens die EP Herald het Saru se president Oregan Hoskins in die naweek gesê dat hy deur Watson op die hoogte gehou word, maar dat die OP afhanklik is van derde partye.

Hoskins het bygevoeg dat die horlosie besig is om af te tik en dat Saru die situasie deurlopend  dophou.

Die horlosie tik egter nie meer af nie, dis reeds twaalfuur.

Nelson Mandelabaai se Belastingsbetalingsvereniging het verlede week gesê hy kan ʼn  multimiljoenrand-borgskap beklink op voorwaarde dat Watson uit sy pos bedank.  Wat is die kans dáárvoor?

Die OP hou op 28 November sy jaarvegadering en daar is glo sprake dat ʼn  mosie van wantroue teen Watson ingestel sal word. Neem kennis, toe Watson verlede jaar ook uitgedaag is, het hy met ʼn  baie groot meerderheid gewen.

Watter spelers van gehalte sal op die sinkende Titanic agterbly?

Tim Whitehead, Lizo Gqoboka, Tim Agaba, Luther Obli en Sylvian Mahuza het reeds die pad  gevat. Só sal ʼn  handvol ander spelers vandag (Maandag) en in die res van die week ook aankondig dat hulle op pad is.

Wat hartseer is, is dat die OP in die hoofwedstryd van vanjaar se o.18-Cravenweektoernooi gespeel het en verlede jaar die nie-amptlike kampioenspan was. Sy o.19-span het vanjaar die nasionale reeks gewen. Hoeveel van daardie talentvolle spelers sal in die Baai agterbly?

Saru is byna tjoepstil, die minister van sport nog stiller. Oor minder as drie maande moet die Southern Kings, wat in 2014 as die OP Kings agtste in die Curriebekerreeks en in 2015 sewende uit agt geëindig het, in die Superreeks speel.

Die Superreeks en die Curriebekerreeks sal aanstaande jaar oorvleuel. Dit beteken dat die OP se derde of vierde span in die Curriebekerreeks sal speel. Met wie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Wat gaan aan daar in die baai dat OP NIE RIGTING kry nie net toe hulle opwindende rugby begin speel en dinge goed lyk is daar nou weer [probleme geen geld ? Ek dink die Falke moet bietjie ondersoek instel En waar is CHEKY WATSON waar loop hy rond die OP is nie a kaas en wyn span wat met doenaasies betaal word nie Plik CHEKY se stert vere uit en jaag hom weg en kry nuwe bloed Ek ruik a ROT die supper reeks is om die draai ?????????

sarelseemonster ·

Wat noet die OP doen? Skare daag nie op nie want die span verloor. Die span verloor omdat daar nie geld is nie vanwee swak bywoning. Cheeky gaan soek geld in Australie wat self met n spul babkrot rugbyspanne sit. Miskien noet die Kings maar net nog n jaar of twee uitsit totdat hulle n bietjie geldjies het. Oo ja, waar is al die swart biljoeners wat skree vir transformasie? OP is veronderstel om die baken daarvoor te wees, maar sodra hulle moet help gebeur niks.

Rian ·

Ek kry die OP unie jammer, hulle was altyd n gerespekteerde unie todat die politieke inmenging begin wortel skiet het. Is Die KINGS nou n Staats institussie die SARU hulle moet red soos SAL, POSKANTOOR, ESKOM, TELKOM ens ens ens…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.