Ons gaan nog baie van die Barretts hoor

Die Barrett-broers, Scott, Jordie en Beauden – saam in dieselfde toets (Foto Twitter All Blacks)

Die vreugdevure het Saterdag hoog in die Barrett-huishouding in New Plymouth gebrand toe die plaasvervanger-slot Scott Barrett in die derde toets tussen die All Blacks en Britse en Ierse Leeus in Auckland opgestuur is.

Saam met sy twee broers, Beauden en Jordie, wat albei in die opdrafspan was, het hulle rugbygeskiedenis gemaak deur die eerste stel van drie broers te word wat saam in ʼn toets vir die All Blacks kon speel.

Voor hulle was daar drie stelle van drie broers wat ook vir die All Blacks gespeel het, maar nooit saam nie.

Hulle was Maurice, Cyril en Laurie Brownlie, die Nicholls-broers, Marcus, Hardy en Harold en die Whitelock-broers, Sam, George en Luke.

♦  In Suid-Afrika is daar ook drie stelle van drie broers wat vir die Bokke gespeel het. John, Dick en Lammetjie Luyt, het in drie toetse op die 1912/’13-toer deur Brittanje en Frankryk saam gespeel – teen Skotland, Wallis en Engeland.

Die Bekker-Bokke: Van links is die rugbyspelers Dolf, Martiens en Jaap, en die tweemalige Olimpiese bokser Daan. Voor sit hulle suster Connie (Lategan)

Jaap, Dolf en Martiens Bekker het al drie toetsrugby vir die Springbokke gespeel. Hulle suster Connie (Lategan) was ʼn Springbokatleet en broer Daan het ʼn silwer medalje vir boks by die 1960 Olimpiese Spele gewen. Nols het soos sy vier broers ook vir Noord-Transvaal gespeel.

Willie, Carel en Michael du Plessis was die ander twee stelle van drie broers wat vir Suid-Afrika gespeel het, maar nooit al drie saam nie. Toevallig was Du Plessis ook hul ma se nooiensvan en sy was ʼn Springbokatleet.

♦  Maar die McLean-gesin van Australië en die Tuilagi’s van Samoa is hulle dalk een voor.

Doug McLean (sr) het drie toetse vir die Wallabies gespeel en ook twee toetse vir die Kangaroos, die Australiese rugbyligaspan.

Hy het vier seuns gehad, waarvan drie van hulle, Doug (jr), Bill en Jack vir die Wallabies gespeel het.

Doug (sr) se vierde seun,  Bob, het nie vir die Wallabies gespeel nie, maar sy drie seuns, Jeff, Paul en Peter het wel.

Jeff het in 13 toetse gespeel en in 1971 sy buiging teen die Bokke gemaak.

Paul het 31 toetse tussen 1974 en 1983 gespeel en het in 2006 president van die Australiese Rugbyunie geword, ʼn pos wat hy tot in 2009 gevul het.

Die vierde broer, Peter, het tussen 1978 en 1982 in 16 toetse gespeel. In 1978 was hy en sy nefie Paul, in dieselfde span wat teen die All Blacks gespeel.

♦   En wat van die sewe Tuilagi-broers?  Vyf van hulle, Freddy (16 toetse), Henry (10), Alesana (29), Anitelea (17) en Sanele (2) het almal vir Samoa gespeel. Die sesde broer Manu het reeds 24 toetse vir Engeland gespeel.

En die sewende broer? Hy staan bekend as Julie … en speel glad nie rugby nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.