‘Ons het die fisieke tweestryd verloor’

Die Blitsbokke het in die eindstryd van die Sydney-sewestoernooi teen Nieu-Seeland verloor. Foto: Twitter.

Sandile Ngcobo, nasionale sewesafrigter, is teleurgesteld met die Blitsbokke se vertoning in die bekereindstryd van die Sydney-sewestoernooi teen Nieu-Seeland.

Ondanks ʼn paar skittervertonings in aanloop tot die finaal – hulle het onder meer die einste Kiwi’s in die groepfase geklop – het Suid-Afrika die onderspit met 38 – 0 in die eindstryd gedelf.

“Ons het die fisieke tweestryd verloor en dit was sommer ook ʼn weerspieëling van ons houding in daardie wedstryd. Ons het nie gespeel soos wat ons moes nie en ons was doodeenvoudig nie goed genoeg om te wen nie,” het Ngcobo gesê.

Hy het ook nie Shakes Soyizwapi, Ryan Oosthuizen en ander sleutelspelers se beserings as ʼn verskoning gebruik nie.

“Ja, dinge het glad nie in die eindstryd verloop soos wat dit moes nie, maar die span verdien steeds lof vir die wyse waarop hulle Sondag teen Fidji gespeel het.”

Die Blitsbokke was toe skitterend op dreef en het die eilandmanne met 31 – 12 gewen nadat hulle rustyd reeds met 17 – 0 voor was.

Suid-Afrika beklee tans die tweede plek op die sewesranglys en Ngcobo is trots op die vordering wat sy span getoon het.

“As ek moet terugkyk na ons geploeter aan die begin van die jaar en hoe ons nou op verlede naweek se Hamilton-teleurstelling verbeter het, dan is dit beslis iets waaroor ʼn afrigter kan glimlag.”

Die volgende toernooi word op 25 en 26 Februarie in Los Angeles beslis.

  • Punteleer ná vyf toernooie:
  1. Nieu-Seeland: 85 punte
  2. Suid-Afrika: 76 punte
  3. Samoa: 68 punte
  4. Frankryk: 68 punte
  5. Fidji: 67 punte
  6. Argentinië: 67 punte
  7. VSA: 66 punte
  8. Australië: 62 punte
  9. Ierland: 58 punte
  10. Groot-Brittanje: 35 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Moedeloos ·

My hart het gebreuk oor daardie skokkende spel en telling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.