Ons leef in buitengewone tye, sê Bokbreier

Jacques Nienaber. Foto: ANA.

Die Springbokafrigter Jacques Nienaber is mal daaroor om te hardloop, maar weens die Covid-19-pandemie en die afsonderingstydperk in Suid-Afrika moes hy nie net noodgedwonge na innoverende maniere kyk om fiks te bly nie, maar ook om die Bokspan so skerp moontlik te hou.

“Ons leef in buitengewone tye en met die afsonderingsmaatreëls wat geld moet ons ook na buitengewone maniere kyk om met die spelers in kontak te bly,” het Nienaber gesê.

Die span het pas ’n kamp voltooi en Nienaber-hulle het van Microsoft-sagteware gebruik gemaak om met die spelers en ander afrigters te kommunikeer.

“Ons werk hard vanuit ons huise om die spelers na die beste van ons vermoë voor te berei. Ons moet gefokus bly om hulle nie net takties nie maar ook sielkundig gereed te kry vir die uitdagings wat voorlê.”

Soos alle Suid-Afrikaners moes Nienaber ook ’n hele paar oefen-opofferings maak.

“Ek en my vrou hou baie daarvan om te draf, maar in hierdie tye mag ons nie buite ons erf wees nie. Juis daarom moet ons kreatief wees in die wyse waarop ons oefen. Ons het nou die dag ’n tuinroete aangepak en hoewel dit nou nie mens se eerste keuse is nie, het die beslis gehelp.

“Die meeste van ons is gesond terwyl ons ook redelik fiks en sterk is. Juis om dié rede moet ons diegene met swakker immuniteitstelsels na die beste van ons vermoëns beskerm.

“As ons Suid-Afrikaners saamstaan, is ons sterk en as ons almal saamwerk kan ons die virus klop. Bly by die huis en wees veilig,” het Nienaber gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.