Ons struikel van die veld af met die name

Wahl Barmann met die eerste Boktrui met b borg op die bors, 1986. (Foto YouTube)

Wahl Barmann met die eerste Boktrui met die borg op die bors, 1986. (Foto YouTube)

Een van die donkerste dae in die lewe van die oud-rugbybaas Dok Danie Craven was in 1986 toe die Springbokke met ‘n klein Toyota-embleem op hul regterbors teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gespeel het.

Dit het gepaard gegaan met ‘n borgskap van R75 000 waarsonder die suksesvolle toetsreeks nie kon voortgaan nie.

“Verkoop vir ‘n bord lensiesop,” het een van die Afrikaanse koerante dit op sy voorblad uitgebasuin. Min het ons toe geweet dat rugby, en sport, nie sou kon voortgaan sonder ‘n geldelike inspuiting nie, of ons dit nou ook al verag het of nie.

Die spelers se mening is ingewin en tot die misnoeë van die beamptes het dit nie vir hulle saak gemaak nie, want hulle wou net rugby speel (en nie meer koevertjies onder die kopkussing, maar geld in hul bankrekenings ontvang). Garth Wright het selfs gesê hy was bereid om in ‘n pienk trui te speel. Kan jy nou meer.

Dit was ‘n baanbrekertoer. Die toekoms van rugby is uitgestippel, want amateurrugby se dae was ongelukkig getel.

Die Nieu-Seelandse Kavaliers – dit was maar eintlik die All Blackspan wat nie amptelik in 1985 kon toer nie, want net John Kirwan en David Kirk wou nie saam toer nie – het in swart truie met geel strepe op die moue gespeel met die borg se embleem op die regterbors. Daar was ‘n lelike  varing en die  buitelyne van ‘n rugbystadion op die linkerbors.

Dit bring my uit by ‘n nuusverklaring Woensdag oor Saterdag se Wahl Bartmann Fidelity Security se rugbydag (ironies was Bartmann een van die Bokke se flanke teen die Kavaliers) op Growthpoint-Kingspark gespeel word.

In van die wedstryde speel eThekwini Refractories Amazimtoti, Your Communication College Rovers en SA Home Loans Collegians. Verlede week in Eshowe was die 71ste Flya Sportswear Bozas-beker op die spel.

Op die krieketveld gaan dit net so erg, want die Hollywood Bets Dolphins (behoede ‘n krieketspeler wat dit durf sou waag om ‘n weddenskap te plaas), speel teen die Build Nat Cape Cobras, ensomeer.

Dit het my laat terugdink aan jare gelede toe Clive Rice kaal voor ‘n geborgde kolf gelê het, toe Barry Richards en Graeme Pollock die allemintige bedrag van tussen R1 en R5 vir ‘n lopie gekry het, toe ons nog ons eie truie, kouse en broeke moes was en toe jy in swart gepoleerde rugbyskoene met wit veters (wat jy moes was) gespeel het; toe jy R2 moes opdok vir die wedstryd se balfooie in krieket en toe die Bokke nog gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.