Ons wil dié toets onthou, sê Kolisi

Die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus speel vandag in die beslissende toets in Kaapstad. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Al het ’n veglustige Bismarck du Plessis gesê dat die Springbokke eintlik die reeks teen die Britse en Ierse Leeus met 3-0 moes gewen het, sal ’n sege in vandag se derde toets beteken dat die Bokke met die reekslouere wegstap.

En ’n reeksoorwinning bly geldig, of jy nou met 3-0 of 2-1 wen.

“Hierdie toets is ’n wedstryd wat ons sal wil onthou,” het Siya Kolisi gesê. Sake staan tans gelykop in die reeks nadat die Leeus die eerste kragmeting met 22-17 gewen het, waarna die Bokke met ’n kragvertoning in die tweede toets teruggeveg het om met ’n oorwinning van 27-9 van die veld te stap.

Volgens die Springbokkaptein is daar ooreenkomste met die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi, maar ’n beslissende wedstryd teen die Leeus is ’n unieke ervaring juis omdat dit baie van die spelers se laaste kans is om teen die toerspan kragte te meet.

Morné Steyn se wenskop in 2009. Foto: Alexander Joe/AFP.

Die Leeus toer immers net een keer elke 12 jaar na Suid-Afrika.

“Hierdie is die wedstryd wat die meeste saak maak; wat vooraf gebeur het tel nou nie veel nie. Ons sien uit na die uitdaging en ons wil die reeks op ’n wennoot afsluit.”

Dan is die ervare Morné Steyn op die Bokke se plaasvervangersbank ingesluit. Dit is ’n besluit wat moontlik lekker met die Leeus se koppe kan smokkel, want sy strafskop-heldedade van die 2009-toer is nog vars in die geheue. Indien die immergroen losskakel op die veld verskyn, sal dit sy eerste toets in vyf jaar wees.

“Morné is ongelooflik. Sy energie en liefde vir die spel is onveranderd sedert ek hom vir die eerste keer in 2013 ontmoet het. Hy is uitgehonger om te speel en met sy ervaring beskik hy oor die unieke vermoë om almal rondom hom rustig te maak.”

Alun Wyn Jones het dalk vroeër gewaarsku dat ’n gewonde Leeu dalk gevaarliker as ’n gekweste Springbok is, maar die Suid-Afrikaners is oorgehaal om hierdie een te wen.

  • Die aksie begin vanaand om 18:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tubac ·

Ek het so n vermoede dat julle dit dalk vir jare sal onthou, of gou wil vergeet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.