Onsekere Bokke in die Poema-kuil

Johan Goosen - `n voorste aanvaller volgens Sanzaar se amptelike statistiek (Foto GB Jordaan)

Johan Goosen – `n voorste aanvaller volgens Sanzaar se amptelike statistiek (Foto GB Jordaan)

Daar is steeds heelwat geregverdigde ongelukkigheid oor die vertoning van die Springbokke verlede week toe hulle eers teen die einde ʼn bietjie rugby gespeel het om Argentinië 30-23 te klop. En dit sal nie verras as hulle Saterdag in Salta wéér sukkel nie.

Vergeet maar van die posisies van die twee spanne op die Wêreldranglys. Dit is eenvoudig nooit maklik in Argentinië nie. Trouens, in die tien wedstryde wat die Springbokke al daar gespeel het, het hulle een verloor, een gelykop gespeel en in die ander agt wedstryde vier keer met vyf punte of minder gewen.

Dit was met veel meer ervare en beter spanne as die huidige, en boonop begin die Poemas nou in hulself glo.

Dit help nie dat daar gekibbel word oor wie in die toets moes speel en wie nie. Die span is gekies. Al waarvoor ʼn mens nou vir Saterdag se wedstryd vra, is ʼn patroon. As dít daar is, is die saak half gewonne.

Dit het in Nelspruit gelyk of die spelers onseker was oor wat van hulle verwag word. Hulle het met vaart en so ʼn stukkie hardlooprugby weggespring, en toe skielik in hulle doppe gekruip.

Waarom? Vrees dat hulle dalk te veel hardloop?

Jy vra ook vir beter gebruik van die gevaarmanne soos Ruan Combrinck, en selfs Johan Goosen. Statistiek wen wel nie wedstryde nie, maar gee darem ʼn aanduiding waar sterk- en/of swakpunte is.

Goosen het wel nie uitgestaan nie, maar was van spelers van al vier spanne in Saterdag se Rugbykampioenskap in die toptien wat betref meters gehardloop, direkte teenstanders geklop en skoon breekslae.

Goed, Damian de Allende het hierdie keer ʼn  paar keer meer laat loop as wat ʼn mens van hom verwag. Maar hoekom kry Lionel Mapoe steeds nie die soort berekende aangeë wat hy by die Lions gekry het nie?

En hoekom is Elton Jantjies skielik onseker/ verwardheid oor wat hy moet en kán doen?

Dit is seker ook ʼn vraag oor waarom daar so baie hardloopkans aan die Poemas gegee is. Gaan kyk jy na die statistiek van verlede naweek se eerste twee wedstryde in Nelspruit, lyk dit of net Oupa Mohoje werklik gekeer het. Sy 17 duikslae is saam met Tevita Kuridrani die meeste van die naweek. Geen Springbok is in die toptien nie.

Drie All Blacks is ook onder die toptien verdedigers hoewel hulle 42-8 gewen het. Hulle wóú keer.

Benewens Mohoje het nie ʼn enkele Springbok tien suksesvolle duikslae uitgevoer nie.

Die eina-verdediging het seker bygedra dat vier Poemas onder die toptien is met meter afgelê met die bal.

Daar is heelwat waaraan hopelik die week gewerk is want daar wás heelwat om aan te werk. Hopelik is daar ook ʼn bietjie vernuwing en dinkwerk en ʼn tikkie meer toegewydheid wanneer dit saak maak, en vir die volle 80 minute, om dit ʼn toets te maak waarop Suid-Afrika kan trots wees.

Dit sal die pad vorentoe ook vir Allister Coetzee baie makliker maak.

Spanne –

Argentinië
15 Joaquín Tuculet, 14 Santiago Cordero, 13 Matías Orlando, 12 Juan Martín Hernández, 11 Manuel Montero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Facundo Isa, 7 Juan Manuel Leguizamón, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Matías Alemanno, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (kapt.), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Felipe Arregui, 18 Enrique Pieretto, 19 Guido Petti, 20 Javier Ortega Desio, 21 Tomas Cubelli, 22 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Lucas González Amorosino

Suid-Afrika
15 Johan Goosen, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Damian de Allende, 11 Bryan Habana, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Oupa Mohoje, 6 Francois Louw, 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Vincent Koch, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Lourens Adriaanse, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Jaco Kriel, 21 Rudy Paige, 22 Morné Steyn, 23, Jesse Kriel.

Afskop: 21:40

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hasie ·

Sterkte aan die Bokke, die Poemas speel met ‘n paar goeie planne en speel heelwat beter as wat hulle in die verlede gespeel het. So, moenie na statistieke kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.