Onsekerheid in Wêreldrugby duur voort

Lappies Labuschagne word deur die Springbokke se Franco Mostert platgetrek. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama, File)

Wêreldrugby het ʼn wilde perd opgesaal wat hy nie weet hoe om te ry nie.

Die rugbybase sou op 30 Junie oor ʼn moontlike wêreldwye seisoen gestem het, maar dit het nie gebeur nie omdat die Franse en Engelse klubs nog nie daaraan wou byt of saamstem of daar ses of sewe weke vir toetsrugby opsy gesit moet word nie.

Is dit nie ironies nie dat Bill Beaumont, Wêreldrugby se grootbaas, van Engeland afkomstig is en sy hoofluitenant, Bernard Laporte, ʼn Fransman is?

Die jongste bespiegeling, wat slegte nuus vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), spelers en ondersteuners kan wees, is dat daar glo beplan word om Japan en Fidji in November by ʼn vergrote Sesnasiesreeks in te sluit en dat daar op 14, 21 en 28 November in twee groepe meegeding sal word.

Die twee voorlopers sal dan op 5 Desember in die eindstryd speel.

Dit kan die beplande toere van die spanne van die Suidelike Halfrond aan die einde van die jaar na Europa kelder. Dit kan ook die deur oopmaak vir Australië en Nieu-Seeland om in ʼn Bledisloe-reeks van drie toetse teen mekaar te speel as die Rugbykampioenskap in die gedrang is.

Die groot probleem is dat toetse net in die sogenaamde toetsvenster mag plaasvind waar al die spelers deur hul klubs vrygestel moet word.

Die Springbokke het die afgelope paar jaar toetse teen Wallis buite die toetsvenster gespeel, maar dan was die spanne nie op volle sterkte nie.

Saru het dit onomwonde gestel dat daar vanjaar toetsrugby vir die Bokke sal wees.

Dit het voorheen gereeld gebeur dat daar nie toetse op die spyskaart was nie, soos tydens en ná die twee Wêreldoorloë en toe die Springbokke in die rugbywoestyn was.

Maar dit was in die amateur-era, toe spelers nog studente was, skoolgehou het, dokters, polisiemanne en plaasboere was.

Die Curriebekerreeks het ook gesorg dat die bonde finansieel nie doodgewurg het nie.

Maar sedert die negentigerjare het die doelpale verskuif, dis die spelers se brood en botter en toetsrugby moet die spel aan die lewe hou en salarisse betaal.

Dis hoekom Saru alles in sy vermoë doen om die spelers besig te hou, hoewel hulle afhanklik is van Wêreldrugby se besluite.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.