Onthou jy nog daardie wedstryd?

Die Britse toerspan van 1904 wat teen die Maori verloor het.

Elke land het sy geskiedenis waaroor hy nie mag praat nie, en net so het elke rugbyspan ʼn wedstryd waaroor hy nie graag wil praat nie.

Dink maar aan die sterbelaaide Westelike Provinsie toe hulle hulle in 1983 deur Suidoos-Transvaal in ʼn Lionbekerwedstryd geklop is.  Witbank was nooit weer dieselfde nie.

Dink maar aan Noord-Transvaal toe die span vol Bokke in die Curriebekereindstryd van 1970 deur Griekwas in Kimberley getroef is. Weke lank is die Curriebeker uitgestal in die SA Perm, sodat die hele Noord-Kaap in die oorwinning kon baai.

Dink maar aan die dag toe Oos-Transvaal die Ligbloues op Loftus geklop het, toe Natal die Curriebekereindstryd in 1990 ook op Loftus gewen het. As ʼn mens Durban toe oor Van Reenenspas gery het, is jy met ʼn groot naambord begroet: “Jy ry nou Curriebekerwêreld binne”.

Eina! En dan het ons anderkant toe gekyk …

Dink ook maar aan die dag toe Japan die Bokke in 2015 in Brighton geklop het, of toe die Bokke verlede jaar teen Italië verloor het.

Die Britse en Ierse Leeus is baie gesteld oor hul toere, vertonings en uitslae, maar hulle was jare lank tjoepstil oor die wedstryd wat hulle in 1904 teen die Maori in Rotorua gespeel het.

Amptelik het die Leeus 14 van hul 19 wedstryde gewen, maar oor die nederlaag teen die Maori? Nou ja …

Volgens die argiewe is die wedstryd om tienuur in die oggend voor 2 000 rasende toeskouers  gespeel, slegs ʼn paar dae ná die eerste toets wat die All Blacks met 9-5 gewen het.

Die Leeus was gou voor nadat John Fisher en Willie Llewellyn gedruk het, maar volgens Percy Bush het hy aspris albei doelskoppe misgeskop “om die Maori nie te ver te klop nie”.

Dit het geboemerang , want die Leeus is met 8-6 geklop. Dit was glo ʼn bedremmelde span wat die aand per trein in Auckland aangekom het.

Die Leeus kon nie uitgepraat raak oor hul besoek aan Rotorua nie. Dis ʼn wonderlike vakansiebestemming met asemrowende natuurskoon, natuurlike warmwaterbronne, stoombaddens, modderpoele en ongekende gasvryheid.

Maar oor die wedstryd? Aikôna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wicus ·

Dankie Pieter, jy vat my ver terug. Ek was daar op Witbank, as WP ondersteuner, het nog die program.

Piet Vrystaat ·

Ja onthou daai Maori game teen Britse leeus goed..wat n wedstryd..voel soos gister ek was toe 87 Jaar oud

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.