Ontstoke Despatch dreig met hof oor Goue Beker

Despatch-logo`n Erg ontstoke Despatch dreig om die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) hof toe te vat nadat die klub met skok op Facebook verneem het hy neem nie vanjaar aan die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker deel nie.

Despatch, wat verlede jaar die OPRU se Grootuitdaagbeker gewen het, neem sedert die instelling van die reeks in 2012, destyds as die Gemeenskapsbeker bekend, nog elke jaar daaraan deel. Hy het die eerste reeks gewen en nog elke keer tussen die boonste vyf uit 20 klubs geëindig.

Nou het die bond besluit Port Elizabeth Polisie, die naaswenner van die Grootuitdaagbeker in 2015, sal die OPRU in die reeks verteenwoordig.

André Vlok, die klub (Despatch) se regsverteenwoordiger, sê die reëls bepaal jare lank dat die klub wat boaan die punteleer eindig, die bond in die nasionale reeks verteenwoordig.

“Dit was ook die praktyk, en om op dié wyse op Facebook te verneem die klub speel nie vanjaar om die Goue Beker nie, en dat die besluit agter jou rug geneem is, is ontstellend,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Vlok sê `n vergadering is Maandag (8 Februarie) gehou, maar Despatch is kort voor die aanvang daarvan in kennis gestel dat dit uitgestel is.

“Toe Despatch sy oë uitvee, is die vergadering wel gehou en die gewraakte besluit geneem. Dis heeltemal onaanvaarbaar.”

Hy het namens die klub `n brief aan die OPRU en aan Polisie gerig om te vra op grond waarvan die besluit geneem is. Tensy hulle teen sakesluiting Donderdag (11 Februarie) bevredigend hierop antwoord, sou Despatch `n aansoek tot die hof rig dat die onreëlmatige besluit van 8 Februarie ongekwalifiseerd tersyde gestel word.

Die OPRU moes ook teen die spertyd Despatch se deelname aan die reeks om die Goue Beker skriftelik bevestig.

Vlok sê die OPRU se prokureur het hom intussen gebel en aangedui dat hulle die saak wil bespreek. Despatch sal hulle aanhoor voor op moontlike verdere optrede besluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.