Ontwaak uit jul slaap, SA se Superspanne!

Hoekom is die Crusaders die suksesvolste span in die Superreeks?

Hoekom het hulle reeds die reeks agt keer sedert 1996 gewen? Vergelyk dit met die Suid-Afrikaanse spanne se drie oorwinnings, al drie kere deur die Bulls, en die Sharks (drie keer), die Lions (twee) en Stormers (een) wat strooijonker in eindstryde moes speel.

Die Crusaders maak op 1 November hul groep vir aanstaande seisoen (ja, vir aanstáánde seisoen!) bekend. Dit skep werksekerheid en die spelers weet presies (ook wat spelpatroon en kondisionering betref) wat van hulle verwag word wanneer die seisoen amptelik begin.

Die vyf Nieu-Seelandse Superrugbyspanne kan elke seisoen 38 spelers kontrakteer en ontvang vier miljoen Nieu-Seelandse dollar (sowat R38 miljoen) om die spelers se salarisse te betaal. Die kontrakte beloop tussen 195 000 Nieu-Seelandse dollar vir die hoogs betaalde speler (sowat R1,88 miljoen) en die kleinste kontrakte word vasgepen op 75 000 Nieu-Seelandse dollar (sowat R722 000).

Dit klink baie in Randwaarde, maar onthou daar word in Nieu-Seelandse dollar geleef. Dus is die Suid-Afrikaanse kontrakte oor die algemeen baie groter, hoewel die SA spanne jaarliks toenemend swakker vaar.

Die Crusaders het 90 persent van hul groep reeds teen die middel van September beklink.

Daar is 13 All Blacks in die groep en Jack Goodhue sal na alle waarskynlikheid sy toetsbuiging op die komende All Black-toer in Europa maak. Dan is Richie Mo’unga ook nog daar, wat in die All Black-groep was vir die derde Bledisloetoets teen die Wallabies in Brisbane, maar nie die span gehaal het nie.

Die afrigter, Scott Robertson, se geldkraan het dus reeds opgedroog, maar hy kan steeds van die land se talentvolste spelers na Christchurch lok met die geelwortel om saam met die bestendigste Superrugbyspan en saam met 13 All Blacks te speel. Onthou gerus ook dat Canterbury Saterdag die Mitre10-reeks (dis Nieu-Seeland se eweknie van die Curriebekerreeks) gewen het toe hulle Tasman met  35-13 in die eindstryd geklop het.

Is dit nie ʼn les vir Suid-Afrikaanse rugby nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Ek her dit reeds in die verlede gesê,Provinsialisme is Suid Afrikaanse rugby se doodsteek.
Alle afrigters wat dit nie maak in die Superrugbyreeks se doelwit is se verowering van die Curriebeker,wat bekergewys tog vierde in die ry staan wat alle rugbyspelers graag op hul rugby CV sal wil plaas.1.Wêreldbeker,2 Rugbykampioenskapbeker,3 Superrugbybeker,4 Curriebeker.
Vra jouself die vraag af,hoeveel keer het ‘n Curriebekerkampioen al die Superrugbybeker
gewen?In Suid Afrika word spanne eerder gekoop as ontwikkel.Daarom as Suid Afrika enigsinds wil meeding moet die klem om die ontwikkelling van sterk Streekspanne en nie Provinsiale spanne geplaas word,as voorbereiding vir Superrugby en die Rugbykampioenskap.

bloues ·

Pieter, dit is maklik om die Suid Afrikaners se siening en houding te verstaan. Al wat jy moet doen is: Neem die logiese en beste manier en voorbereiding, gooi dit by die venster uit want dit sal hulle nie doen nie.
Soos Ouboet sê” Ok maar lekker stupid”
En so sal dit aangaan.

Johan Möller ·

Jis jong, die Nieu Zeelandse kwota sisteem werk wonderlik, on moet leer….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.