Onvoorspelbaarheid kenmerk Goue Beker in 2016

Community Cup: Launch and press conferenceDie mededingendheid en spanning wat verlede jaar die oop klubs se reeks om die Goue Beker (GB) gekenmerk het, tesame met die onvoorspelbaarheid van vanjaar s’n beloof selfs groter belangstelling uit te lok as wat tevore die geval was.

Die ander belangrike nuus wat uit die bekendstelling van die bepalings Dinsdag in Kaapstad blyk, is dat Northam (Windhoek) en Valsbaai (Harare) die eerste SA spanne sal wees wat kragtens die nuwe bedeling in die buiteland speel. Durban Collegians (Harare) en Pacaltsdorp Evergreens (Windhoek) is die ander twee spanne wat hul paspoorte moet regkry.

♦ Duane Heath en sy helpers by die SA Rugbyunie (Saru) moet geluk gewens word met die mate waarin daar geslaag is dat vanjaar se deelnemers in die groepfase in baie min gevalle teen ʼn span speel teen wie hulle tevore in die reeks kragte gemeet het.

In die drie, dalk vier, gevalle wat dit wel gebeur, sal die herontmoetings skerp in die kollig wees.

Sommer in die eerste ronde al pak die Goue Bekerhouer, Durbanville-Bellvile, en Old Selbornian van Oos-Londen mekaar in Kaapstad in wat beloof ʼn vroeë hoogtepunt in die reeks te wees. Old Boys was verlede jaar die enigste span wat die uiteindelike kampioen kon klop (22-14).

Wat die ander gevalle betref, sal diegene wat aan die ontvangkant was bitter graag wil bewys dat hulle met die herontwaking van klubrugby tred gehou het.

Evergreens en Welkom Rovers se beurt kom sommer in die tweede ronde al.

Die span van Pacaltsdorp het in 2013 die kwarteindronde van die reeks gehaal, maar Rustenburg Impala het hom 50-10 in die uitspeelstryd verniel. Die SWD-kampioen speel vanjaar tuis teen Impala en die geesdrif van sy tuisskare is wyd bekend.

Die Griffons-kampioen, Welkom Rovers, het sekerlik nie ligtelik vergeet dat Durbell hom in 2013 96-0 afgeransel het nie en sal eweneens sy tuisveldvoordeel wil aanwend om sy reputasie reg te stel wanneer die twee spanne op Welkom bots.

Die Valke se 2016-kampioen sal dié bond verteenwoordig en Witrivier sal met `n mate van benoudheid die uitslag van die Valkeliga afwag.  Hy sal nog daaraan terugdink dat Brakpan, die Valke se 2015-kampioen, hom in 2013 134-0 verniel het.

Ná verlede jaar se uiters mededingende reeks kan dit vanjaar eenvoudig nie die terugslag bekostig wat ʼn herhaling van sulke tellings sal meebring nie.

♦ Die spanne wat naas Durbell (Westelike Provinsie) en Old Boys (Grens) in die eerste ronde op 10 September aanmekaar spring, is Villagers Worcester (Boland) teen Welkom Rovers (Griffons) op Worcester; Pirates (Goue Leeus) teen Wanderers van Windhoek (Namibië) in Greenside, Johannesburg; Northam (Limpopo Blou Bulle) teen Rustenburg Impala (Luiperds) op Northam; Valsbaai (Westelike Provinsie) teen Durban Collegians (KwaZulu-Natal) in Kaapstad; Witrivier (Mpumalanga) teen die Zimbabwese klubkampioen op Witrivier; Sishen (Griekwas) teen Pretoria Polisie (Blou Bulle) op Kathu; en Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) teen Bloemfontein Polisie (Vrystaat) in die Baai.

♦ Die twee spanne wat in ʼn uitspeelronde tussen vanjaar se provinsiale kampioene wat nie reeds in die reeks speel nie hul plek sal bespreek, asook Evergreens (SWD) en die Valke-kampioen het ʼn loslootjie en kom eers in die tweede ronde op 17 September aan die beurt.

Die nuwe kwalifiseerder in Groep A sal op sy tuisveld teen Villagers Worcester speel, en die een in Groep D op sy tuisveld teen Sishen.

Soos gesê, speel Evergreens tuis teen Impala; en die Valke-kampioen sal op sy tuisveld teen Valsbaai speel.

Die bepalings –

10 September

Villagers Worcester teen Welkom Rovers (Worcester); Durbell teen Old Selbornian (Kaapstad); Pirates teen Wanderers (Johannesburg); Northam teen Rustenburg Impala (Northam); Valsbaai teen Durban Collegians (Kaapstad); Witrivier teen Zimbabwe (Witrivier); Sishen teen Pretoria Polisie (Kathu); en PE Polisie teen Bloemfontein Polisie (Port Elizabeth).

17 September

Welkom Rovers teen Durbell (Welkom); Kwalifiseerder 1 teen Villagers Worcester (sal bepaal word); Evergreens teen Impala (George); Pirates teen Northam (Johannesburg); Durban Collegians teen Witrivier (Durban); Valke-kampioen teen Valsbaai (sal bepaal word); Pretoria Polisie teen PE Polisie (Pretoria); Kwalifiseerder 2 teen Sishen (sal bepaal word).

24 September

Old Selbornian teen Villagers Worcester (Oos-Londen); Welkom Rovers teen Kwalifiseerder 1 (Welkom); Wanderers teen Northam (Windhoek); Evergreens teen Pirates (George); Zimbabwe teen Valsbaai (Harare); Durban Collegians teen Valke-kampioen (Durban); Bloemfontein Polisie teen Pretoria Polisie (Bloemfontein); PE Polisie teen Kwalifiseerder 2 (Port Elizabeth).

1 Oktober

Kwalifiseerder 1 teen Old Selbornian (sal bepaal word); Villagers Worcester teen Durbell (Worcester); Northam teen Evergreens (Northam); Impala teen Wanderers (Rustenburg); Witrivier teen Valke-kampioen (Witrivier); Zimbabwe teen Durban Collegians (Harare); Kwalifiseerder 2 teen Bloemfontein Polisie (sal bepaal word); Sishen teen PE Polisie (Kathu).

8 Oktober

Durbell teen Kwalifiseerder 1 (Kaapstad); Old Selbornian teen Welkom Rovers (Oos-Londen); Impala teen Pirates (Rustenburg); Wanderers teen Evergreens (Windhoek); Valke-kampioen teen Zimbabwe (sal bepaal word); Valsbaai teen Witrivier (Kaapstad); Bloemfontein Polisie teen Sishen (Bloemfontein); Pretoria Polisie teen Kwalifiseerder 2 (Pretoria).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.