Oom Boy Louw se ‘oorlog’ skuif na Ellispark

Handré Pollard (foto: moonstone.co.za)

Handré Pollard (foto: moonstone.co.za)

Toe die All Blacks in 1949 op die eerste na-oorlogse toer hier aankom, het Oom Boy Louw gewaarsku: “Wanneer Suid-Afrika teen Nieu-Seeland speel, is dit oorlog.” Die spel het intussen heeltemal verander en daar word ook nie meer getrap en vuisgeslaan nie, maar Oom Boy se woorde geld steeds.

Intussen het die All Blacks die oud-stoeier Joe Moody (1,88 m en 112 kg) vir sy eerste opdrafwedstryd op loskop teen Jannie du Plessis gekies met die opdrag om sy brute krag uit te stal. Op hul beurt hou die Springbokke duimvas dat Duane Vermeulen fiks sal wees.

Dit is nog die een ontbrekende veertjie in Heyneke Meyer se hoed – ‘n sege oor Nieu-Seeland.

Op papier het die Kiwi’s die meer vanselfsprekende sterre, van Israel Dagg tot Aaron Smith. Op vleuel is daar Ben Smith en Julian Savea, wat deur Steven Hansen as waarskynlik beteras Jonah Lomu beskryf word. En almal wat gesien het hoe Savea teen die Poemas drie verdedigers op pad doellyn toe afskud, sal weet dat daar `n groot taak op veral Cornal Hendricks wag.

Voorlangs het hulle Kieran Read en Richie McCaw sonder dat `n mens nog name hoef by te voeg.

Die Bokke sukkel maar steeds in die skrums en die manier waarop die All Blacks die Wallabies verrinneweer en die Poemas geneutraliseer het moet as `n waarskuwing dien.

Die All Blacks is ook meesters van die losskrum, veral as die skeidsregter McCaw – goed soos hy is – te veel ruimte toelaat om die reëls te oortree.

Baie van Suid-Afrika se hoop is gesetel in die vertoning van sy voorspelers in die vaste en losser fasette en in die bietjie toorkuns wat Handré Pollard en Willie le Roux kan inspan om ons eie vleuels met goeie besit te voer.

En natuurlik ons taktiese skopwerk, waar Meyer dit duidelik gestel het dat hy nog ver van tevrede is met Francois Hougaard se vermoëns.

Oom Boy is ook alombekend vir sy “Looks at the scoreboard” en ‘n mens kan maar net hoop dat die Bokke dit agterna sal kan sê aan elke Kiwi wat verskonings aanvoer omdat hulle verloor het.

Die spanne is: 

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (kaptein), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Francois Hougaard, 8 Duane Vermeulen/Schalk Burger, 7 Teboho Mohoje, 6 Marcell Coetzee, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Bakkies Botha, 20 Schalk Burger/Warren Whiteley, 21 Cobus Reinach, 22 Pat Lambie, 23 JP Pietersen.

Nieu-Seeland: 15 Israel Dagg, 14 Ben Smith, 13 Conrad Smith, 12 Malakai Fekitoa, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Jerome Kaino, 5 Sam Whitelock, 4 Jeremy Thrush, 3 Owen Franks, 2 Keven Mealamu, 1 Joe Moody.
Bank: 16 Dane Coles, 17 Ben Franks, 18 Charlie Faumuina, 19 Steven Luatua, 20 Liam Messam, 21 Tawera Kerr-Barlow, 22 Colin Slade, 23 Ryan Crotty.

Saterdag om 17:00 op Ellispark.

Verwagte weer: Meestal sonnig – 19 ºC tot 10 ºC.

Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.