Mening: Oopkop benadering tot Varsitybekerreeks nou nodig

Dit sal darem ʼn kwade en hartseer dag vir Suid-Afrikaanse rugby, en sport in die algemeen, wees as die Varsitybekerreeks se voortbestaan in die gedrang is.

Dit volg op die geweld wat Maandagaand in Port Elizabeth by die Nelson Mandelabaai-universiteit se rugbystadion uitgebreek het toe die Madibaz teen die Maties gespeel het. Dit het tot die afgelasting van die wedstryd gelei nadat die Maties met 19-0 voor was en nou sal daar dringend ʼn ondersoek gedoen moet word om agter die kap van die byl te kom.

Hopelik was dit net ʼn geïsoleerde geval wat gou deur die universiteitsowerhede en die Varsitybeker se organiseerders opgelos sal word.

Wat werklik gebeur het, weet ons nog nie, maar wees maar verseker dat dit politiek gedrewe was – dat apartheid die skuld sal kry, dat rassisme ʼn rol gespeel het, dat Jan van Riebeeck liewer nie in 1652 in die Kaap moes anker gegooi het nie.

Die vonke het glo van die begin af begin spat toe die volkslied voor die wedstryd gesing is en van die toeskouers tydens Die Stem-gedeelte gaan sit het.

Die reeks is reeds in 2008 bekend gestel en was vanuit die staanspoor ʼn klinkende sukses. Ja, daar was oor die jare allerhande foefies en reëls wat die tradisionele ondersteuners die papelellekoors gegee het.

Maar dis eintlik vir jong mense bedoel. Dit is om ʼn nuwe rugbykultuur en geleenthede te skep, en om die spel uit te brei en te bevorder.

Die reeks dien as ʼn uitlaatklep en klankbord vir ʼn nuwe geslag ondersteuners. Hulle sing en dans en klap hande wanneer hulle nie moet nie, hulle druk sewepuntdrieë en kan vra dat die teenstanders vir ʼn ruk lank met net 13 spelers moet speel.

Dit skep ook geleenthede vir die kleiner universiteite soos Fort Hare, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Walter Sisulu-universiteit, Rhodes, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, die KwaZulu-Natal-universiteit en die Kaapse Skiereiland-universitet vir Tegnologie om ook op die groot sportverhoog te speel.

Afgesien van rugby en sewesrugby, word daar ook in atletiek, krieket, netbal, hokkie, strandvlugbal en sokker meegeding.

Moet ʼn klein groepie gegriefdes nou die bal namens die res skop?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Dit gaan meer en meer gebeur, want in baie gevalle is van die studente toeskouers niks anders as opgesweepte ANC Jeugliga of EFF ondersteuners nie. Hulle sien alles vanuit ‘n Rassistiese en Politieke oogpunt en mis geheel en al die bydrae wat dit tot samehorigheid kan lewer.

Jerry ·

Verkry n interdik teen Sasco wat alle soortgelyke optredes by alle sportbyeenkomste verbied aangesien dit die veiligheid van toeskouers en spelers in gedrang bring en die betrokke universiteit in oneer bring. Geen toegewings moet gemaak word aan Sasco tydens vergaderings mbt die interdik sodat Sasco gefrustreerd raak en hulself krimineel aandadig maak en kriminele klagtes teen die opstokers gele kan word. Dissiplinere verhore sal ook ingestel word en opstokers word dan geskors. Video opnames as bewys van ontwrigting is n absolute moet vir suksesvolle vervolging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.