Oorgerustheid ʼn groter vyand as die Wallabies

Wallabies-vs-All-Blacks-logoDie All Blacks klou nou reeds 13 jaar aan die Bledisloebeker, en dit het die punt bereik waar die Wallabies nou op die veld draf om die telling teen hulle buurland laag te hou eerder as met die voorneme om te wen.

Die All Blacks het verlede naweek 42-8 in die eerste wedstryd in die Rugbykampioenskap gewen met ʼn eerste helfte wat feitlik onoortreflike rugby gelewer het.

Vir ʼn gewone span is dit rede tot selfvoldaanheid en ook effense oorgerustheid, wat in rugby van al die sporte miskien die grootste rol kan speel.

Die All Blacks se afrigter Steve Hansen het die week juis laat bly dat dit hom tot kommer stem. Hy het egter nie bygevoeg dat die twee spanne kwalik op dieselfde veld hoort nie; of dat die All Blacks nou reeds 41 onoorwonne toetse op ʼn streep op tuisbodem gewen het nie.

Daarvan was 18 teen die Wallabies wat laas in 2001 in Nieu-Seeland gewen het. En in Wellington self het die All Blacks 15 opeenvolgens gewen (nie net teen die Wallabies  nie).

Verrassings is natuurlik wel moontlik. Net verlede jaar nog het Australië in Sydney 27-19 gewen. Dit was hulle enigste oorwinning in die laaste 15 toetse teen Nieu-Seeland sedert 2011.

Om dit egter Saterdag te vermag, moet hulle egter hulle duikslae effektief uitvoer. Hulle moet darem ook in die lynstane ʼn paar van hulle eie balle wen. Dit sal ook help as hulle dissipline by die afbreekpunte verbeter; daar meer gereeld ʼn Wallaby byderhand is wat help om die bal om te keer, of ʼn omkeer te verhoed of selfs net die bal te vertraag.

Quade Cooper sal ongetwyfeld – beter óf slegter, hy is daardie soort speler – ʼn bietjie meer tot die spel byvoeg as die steriele Bernard Foley, wat senter toe is. Die twee langs mekaar noop Hansen om te dink hulle sal meer skop om darem ʼn mate van gebiedsvoordeel te kry.

Israel Dagg is dus vleuel toe geskuif, en Ben Smith, wat beter op die teenaanval is, is heelagter toe.

Jy kan die wedstryd ontleed soos jy wil, die Wallabies het nie eintlik ʼn antwoord op wat hulle verlede week getref het nie.

Al wat hulle kan red, is ʼn All Blackspan wat nie reg ingestel is nie en te oorgerus sal wees.

Die spanne –

Nieu-Seeland
15 Ben Smith, 14 Israel Dagg, 13 Malakai Fekitoa, 12 Anton Lienert-Brown, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Joe Moody. Bank: 16 James Parsons, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Liam Squire, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Aaron Cruden, 23 Seta Tamanivalu

Australië
15 Israel Folau, 14 Adam Ashley-Cooper, 13 Samu Kerevi, 12 Bernard Foley, 11 Dane Haylett-Petty, 10 Quade Cooper, 9 Will Genia, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper, 6 Scott Fardy, 5 Adam Coleman, 4 Kane Douglas, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore (kapt.), 1 Scott Sio.
Bank: 16 Tatafu Polota-Nau, 17 James Slipper, 18 Allan Ala’alatoa, 19 Dean Mumm, 20 Will Skelton, 21 Tevita Kuridrani, 22 Reece Hodge, 23 Nick Phipps.

Afskop: 09:35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.