Oorsese probleem steeds nie opgelos

Faf de Klerk – Engelse trek kleinkoppie.

Die tameletjie rakende die deurlopende beskikbaarheid vir die Springbokspan van Suid-Afrikaanse spelers wat oorsee speel, is nog glad nie weggekou nie.

Toe Rassie Erasmus ’n paar maande gelede die reël wat Allister Coetzee aan bande gelê het om net spelers te mag gekies het (wat oorsee speel) as hulle in meer as 30 toetse gespeel het, opgeskort het,was daar lig in die tonnel, want nou kon Erasmus sy beste span (te alle tye) kies.

Maar nou lyk dit of van die Engelse klubs kleinkoppie begin trek het, en nie hul Springbokke vir die hele Rugbykampioenskap wil vrystel nie. Leicester het dit duidelik aan sy twee Wallabies, Tatafu Polota-Nau en Matt Toomua gemaak dat hulle nie in die hele reeks mag speel nie.

Dieselfde geld blykbaar by Sale Sharks (Faf de Klerk) en London Wasps (Willie le Roux).

Toe hulle ’n jaar of wat gelede kontrakte met die Engelse klubs onderteken het, was hul internasionale loopbane op die ashoop, en is daar nie voorsien dat hulle gou weer toetsrugby sou speel nie.

Maar nou heers daar onduidelikheid vir watter wedstryde Le Roux en De Klerk vrygestel sal word.

Dai Young, Waspsse hoofafrigter, het vroeër aan Rugbypass gesê dat Le Roux straks die klub se eerste drie wedstryde in die Engelse Premierliga (op 1, 9 en 15 September onderskeidelik teen Harlequins, Worcester Warriors en die Exeter Chiefs) sal misloop, terug in Engeland sal wees vir kragmetings in die Europese reeks, en dan vir nog een toetswedstryd vrygestel sal word.

Dit beteken dat Le Roux-hulle op 8 September teen die Wallabies in Brisbane en op 15 September teen die All Blacks in Wellington beskikbaar sal wees, asook vir nog een toets – óf op 29 September teen die Wallabies óf op 6 Oktober teen die All Blacks – sekerlik afhangende van hoe die Bokke in daardie stadium vaar.

Daar word uit die Springbokkamp bespiegel dat Damian Willemse (20) die heelagter in die eerste twee toetse teen die Argentynse Poemas op 15 Augustus op Kingspark sal wees, en die week daarna in Mendoza. Le Roux sal die rol van mentor speel met die vleuels Lwazi Mvovo en Aphiwe Dyantyi.

Sjoe, dis darem ’n groot waagstuk, veral as De Klerk ook nie die skrumskakel is nie.

Ag, hier gaan ons alweer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Veritas ·

Die aanstelling van Erasmus as Springbokafrigter, was wyd opgehemel asof hy die redder van Springbokrugby sou wees. Die onherstelbare skade is egter reeds aangerig deur die politieke inmenging in sport. As ons lees van jong rugbyuitblinkers wat beroepsrugby oral oor die wêreld speel en skynbaar nie ‘n snars omgee of hulle dalk die Bokspan kan haal nie, is dit duidelik dat die voedingsbron erg verklein word deur die sogenaamde kwotastelsel. Jammer om dit te sê, maar alvorens politiek nie uit spankeuses gehou word nie, sal die Springbokke nooit weer bo-aan die wêreldranglys pryk nie.

Yankee ·

Bygese, as die rand so bly val, sal n SA speler nie eens n paar rugbysokkies in n ander Land kan bekostig.

Wesley ·

Ek stem nogals saam met wat jy se Veritas, maar die berig gaan oor klubs wat te veel mag het oor internasionale rugby, wat almal, nie net SA, benadeel. Die “utopia”van politieke stabiliteit (Oz) kan ook nou self nie van hul spelers kies nie oor die ryk eienaars van Europa rugby. Dit is n probleem. Wereld Rugby het reels wat gevolg moet word, maar lyk my as jy geld het dan tel die reels nie vir jou nie.

jonny ·

Wat ‘n bevryding toe ek my rug gekeer het op SA sport(s). Ook rugby. Ek het agter hulle aangery , per trein , motor. Voor hekke geslaap. Maar die affere maak my net depressief. Rassie die ewige filosoof wat jou dinge wil wys maak terwyl hy self weet dit kan nie. Die hoogs begaafde Siya en nog baie meer het my genees. Kyk nog rugby, Engelse, Skotte en veral All Blacks maar nee vir Bafana Light. Uitnemendheid is vervang met gemiddeldheid. Dis Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.