Oorsese rugby met SA geur laat hart warm klop

Daar is min dinge so lekker as om rugby op televisie te kyk wanneer die groot gros Suid-Afrikaners die oog in die Engelse Premierliga en Pro14-reeks tref.

Dit is net jammer dat die remme steeds vir die Leeus, Blou Bulle, Westelike Provinsie/Stormers en Haaie aangeslaan is en die Cheetahs in die middel van nêrens staan, want dit sou soveel lekkerder gewees het as dit op Suid-Afrikaanse bodem kon wees.

Wat opgeval het, was die vertonings van Marcell Coetzee en Rob Herring (Ulster), Edinburgh se Duhan van der Merwe, WP Nel, Jaco van der Walt en Pierre Schoeman, die vyf nie-buigende Springbok-voorspelers en Jono Ross wat vir Sale Sharks gespeel het, die grondslag wat Johann Ackermann in Gloucester gelê het en die span wat daarop voortbou en dan die kersie op die koek: die afstuur van Saracens se Owen Farrell.

Vir die rekordboeke: Ulster het tot die eindstryd van aanstaande Saterdag se Pro14-reeks deurgedring toe hy Edinburgh met 22 – 19 geklop het. Dit beteken dat die Noord-Iere teen Leinster in die eindstryd te staan kom.

Pure Ierse plesier, maar die hare gaan waai.

Soos Coetzee tekere gaan, gaan hy baie vrae aan die Springbok-afrigtingspan en Duane Vermeulen stel, want hy is ʼn monster op die aanval.

* Sale Sharks is nou tweede in die Engelse Premierliga nadat hulle Leicester met 40 – 31 getroef het, Gloucester het London Irish met 36 – 23 geklop en Wasps het Saracens met 28 – 18 geskok.

Dan het 3 500 toeskouers die kragmeting tussen Harlequins en Bath bygewoon­. Hopelik sal daar geen nagevolge wees nie, want dis waarvoor almal al maande lank gewag het.

In teenstelling is in Suid-Afrika eers verlede week kontak begin maak en daar nog niks amptelik oor ʼn moontlike Curriebekerreeks is nie.

* Farrell is afgestuur nadat hy Wasps se Charlie Atkinson met die linkerskouer in die gesig geloop het. Draai die horlosie maar terug toe Farrell vir André Esterhuizen op dieselfde wyse in ʼn toets op Twickenham geloop het. Nou is hy weer jammer en het dit nie bedoel nie.

Maar hoeveel keer gaan hy nog daarmee wegkom?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.