Oos-Kaapse Super12-reeks ter elfder ure gered

ec prov gov`n Week of wat gelede was die Oos-Kaapse oorgrensreeks, die Super12, van die baan; nou is dit gered en klap die eerste skote in vanjaar se reeks Saterdag wydverspreid in die provinsie.

Die jaarlikse toernooi is een van die glansprojekte van die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur (DSOKK) in vennootskap met die rugbyunies van Grens (GRU) en die Oostelike Provinsie (OPRU).

Dit sluit spanne uit wat om die Goue Beker (oop klubs) en Varsitybeker (universiteite) meeding, maar verteenwordig voorts die room van Oos-Kaapse klubrugby met ses klubs uit elk van die bonde wat deelneem.

Die reeks skop op `n hoogtepunt af met verlede jaar se wenner, Oos-Londen Polisie, wat die naaswenner, Gardens, op dié se tuisveld in Uitenhage pak.

Alistair Alexander, die nuwe afrigter van Polisie, het aan Pale Toe! gesê die skielike herinstelling van die reeks het hulle nogal onkant betrap en hul voorbereiding en fiksheid is nie op die peil wat hulle dit graag sou wou hê nie.

Hy sê Polisie het groot voorspelers en `n goeie agterlyn. Hy ken Gardens nie, maar weet hy hulle hardloop sterk as hulle die bal in die hande kry.

Alexander, wat Grens se driedrukrekord van 44 drieë in 66 wedstryde hou, meen Polisie kan tog die kastaiings uit die vuur krap as hulle die bal tussen die voorspelers kan hou.

Die vernaamste struikelblok wat hy voorsien, is egter dat Polisie sowat 300 km ver op Uitenhage met Gardens kragte moet gaan meet en die oggend van die wedstryd eers per bus uit Oos-Londen daarheen vertrek. Hulle reis dieselfde aand terug.

♦ In die verklaring waarin die reeks aangekondig word, sê die DSOKK: “Ons is trots daarop om die bakermat van ‘swart’ rugby te wees, want nêrens in die land word soveel spelers opgelewer as juis in die Oos-Kaap nie.

“Die GRU en die OPRU bedryf jaarliks hul eie klubligas waar die kampioene en topklubs bepaal word, maar daar was geen klubreeks tussen die twee bonde nie.

“Die noodsaak is uitgewys om oor die SA Rugbyunie (Saru) se bondsgrense heen te speel om klubrugby op te kikker en te bevorder. Sulke reekse verhoog die aansien en saaklikheid van die spel en beloon die spelers en klubs.

“Dit bied die bonde en die provinsiale regering die geleentheid om die spel plaaslik te bevorder. Dit skep ook `n stewige vlak van elite-mededinging om die kollig op die beste spelers in die provinsie te laat val.”

Die reeks het die afgelope vyf jaar talle provinsiale spelers opgelewer, insluitende Ntando Kebe (Bulldogs, Southern Kings), Oliver Zono (Bulldogs), Billy Dutton (Bulldogs), Lundi Ralarala (Bulldogs), Ntabeni Dukisa (Griekwas), Michael Makase (Bulldogs, Southern Kings), Makazole Mapimpi (Bulldogs), Samora Fihlani (Griffons), Mihlali Mpafi (Bulldogs) en Yanga Xakalashe (Bulldogs).

Die 12 spanne is in drie afdelings van vier elk verdeel en sal drie wedstryde onderling in die groepronde speel. Die twee topspanne in elke afdeling plus die twee beste spanne in die derde plek sal die kwarteindronde betwis. Daarna volg die halfeind- en eindronde.

Phillip Joseph van die OPRU sê die klubs en spelers is hartstogtelik oor die ses weke lange reeks en opgewonde om daaraan te kan deelneem.

Saterdag se bepalings –

A-afdeling: Berlin Tigers teen Spring Rose (New Brighton), Progress (Uitenhage) teen Winter Rose (Mdantsane).

B-afdeling: Gardens (Uitenhage) teen Oos-Londen Polisie, Brumbies (Grahamstad) teen Buffalo (Oos-Londen).

C-afdeling: Walter Sisulu Universiteit (Potsdam) teen Park (Port Elizabeth), Trying Stars (Alexandria) teen Breakers (Queenstown).

(Behalwe waar anders aangedui, is die berig deur die OPRU verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.