Oos-Vrystaat: Hiënas verslind buurman

heilbronHeilbron se Hiënas het sy buurman Frankfort Donderdag in die Noordgroep van die Oos-Vrystaatse liga verslind.

Die tuisspan moes egter kwaai terugveg om die kragmeting op die veld van die Hoërskool Heilbron 18-12 te wen. Frankfort was rustyd 7-3 voor.

Annari Combrink, die sekretaresse van Heilbron, laat weet die spanne het goed teen mekaar opgeweeg en vir die grootste deel van die eerste helfte die een die ander uit mekaar se kwartgebied gehou.

“Heilbron het die vaste skrums oorheers, maar Frankfort se verdediging het die Hiënas nie oor die voordeellyn toegelaat nie.”

Die Hiënas se vleuel, André Broodryk, het ná 20 minute `n lang strafskop deur die pale gejaag om die eerste punte aan te teken.

Kort daarna het Frankfort se heelagter `n gaping in die Hiënas se verdedigingslyn gevind en van die middellyn af rieme neergelê en onder Heilbron se pale gaan druk, berig sy.

Die drie is verdoel en die rustydtelling was 7-3 in die besoekers se guns.

Sy sê die tweede helfte het aansienlik beter vir die Hiënas verloop. Die agsteman, Regert Pienaar, en die plaasvervanger-senter, Koos Els, het elke vir ‘n drie gesorg. Pienaar s’n is deur Bees Claassen, die heelagter, verdoel.

Broodryk het weer met ‘n lang strafskop geslaag, en kort voor die einde het die tuisspan 18-7 voorgeloop.
Frankfort het egter gewys dat `n wedstryd nie verby is voor die eindfluitjie nie geblaas het nie, en in die doodsnikke `n onverdoelde drie aangeteken.

Burger Combrink, die voorspelerafrigter van Heilbron, sê hy is regtig trots op die agttal.

“Ons het die skrums oorheers en selfs ‘n paar goeie losgemale van stapel laat loop.”

Albie Schoeman, die agterlynbreier, was ook vol lof vir die span se vertoning.

“Ek dink ons het baie beter as in die wedstryd twee weke gelede teen Harrismith gevaar. Ons fiksheid verbeter en hoewel daar nog aan die hantering geslyp kan word, het die agterlyn mekaar goed gevind en aangevul.”

Pienaar was die tuisspan se voorspeler van die wedstryd. Ruan Volschenk, Heilbron se losskakel, is as die beste agterspeler aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.