Oos-Vrystaat-kampioen struikel teen Harrismith

harrismithembleemDie Oos-Vrystaatse kampioen, Reitz, het Saterdag teen Harrismith in die streek se Noordgroep gestruikel.

Laasgenoemde het 15-14 gewen, nadat hy rustyd 10-0 voor was.

Marius Coetzee, die voorsitter van Harrismith, sê die sege is daaraan te danke dat die Harrismitters se dekverdediging telkemale die Reitzers verhoed het om te gaan afrond.

Die woelige Kobus Grabe (agsteman) en Mike Schimper (senter) was die wenspan se uitblinkers.

Grabe, wat soos `n wafferse vleuel die helfte van die veld genael het, en Karabo Kgoro het Harrismith se drieë gedruk en Eddy Clarke het met `n doelskop en `n strafdoel geslaag.

Coetzee sê Reitz het altyd `n goeie agttal, maar vanjaar is hy `n puik span wat voor en agter sterk is. Die heelagter, Johan Nel, het Harrismith vele hoofbrekens besorg en telkens die wenspan se agterlyn aan flarde gehardloop.

Hy reken die kampioen is ook spyt oor strafskoppe wat hy nie pale toe gekorrel het nie.

“Harrismith se plaasvervanger-heelagter, Rikus van der Westhuizen, het mooi by die agterlyn aangesluit om vir Reitz bietjie van sy eie medisyne te gee. Ná so `n breekslag, kon Karabo (vleuel) in die hoek gaan afrond,” sê Coetzee.

Harrismith se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag 16:00 tuis teen QwaQwa Leopards.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.