Ooskus is ʼn les vir die ganse rugbywêreld

Daar is ʼn gesegde in Nieu-Seeland dat wanneer jy aan die Nieu-Seelandse Ooskus grootgeword het, trek jy nooit jou wortels uit nie.

Die Ooskus-rugbyunie is die kleinste in Nieu-Seeland en bestaan uit net nege voederklubs. Net soos die meeste ander bonde, sukkel dié unie ook om in die finansiële maalkolk te oorleef.

Ooskus weier egter sedert 1921, toe dit gestig is, om boedel oor te gee, om aan wedstryde te onttrek, of om hul stadion (eintlik net ʼn oop stuk grond) te verkoop om te oorleef.

Die span het laas in September 2013 ʼn wedstryd gewen. Van die spelers reis honderde kilometers om by oefeninge en wedstryde uit te kom. Daar is geen paviljoene in Ruatoria nie, net twee klein geboue wat as kleedkamers, ʼn onthaalsaal (en slaapsaal op ʼn Vrydagaand) en administratiewe kantore dien.

Die spreiligte is beroerd, (net twee ligte halfpad teen die paal op om darem een van die hoeke te verlig) en ondersteuners sit in geparkeerde motors se oopslaanbagasiebakke en rugby kyk.

Die span was in 2001 op die kruin van die golf en het byna tot die Nieu-Seelandse topliga deurgedring, maar is met 30-27 deur Hawke’s Bay in die eindstryd van die Tweede Liga geklop. Daar was toe 7 000 ondersteuners om die span aan te moedig.

Omdat Ooskus so afgeleë is, word daar baie keer net op die Vrydagaande geoefen en dan sommer oorgeslaap vir Saterdag se wedstryd.

Die span, wat uitsluitlik uit spelers van Maori-afkoms bestaan, het al talle helde opgelewer, soos Nehe Milner-Skudder, Dane Coles, Kane Hames, Charlie Ngatai en Brad Weber.

♦ Ooskus se sprokie laat ʼn mens aan die ou dae terugdink, toe spanne soos Noordoos-Kaap, Noordwes-Kaap, Suidwes-Afrika, Oos-Vrystaat, Verre Noord, Laeveld en Noord-Natal nog in die Suid-Afrikaanse Sport Pienaar- of ander reekse meegeding het.

Spelers soos Herklaas Engelbrecht, Johnny Joubert, Mannetjies Roux en Jan Ellis, en honderde ander, wat ook duisende kilometer moes aflê om by oefeninge en wedstryde uit te kom.

Wat van Frans de Jager (baie sê hy en Louis Schmidt is die oorspronklike Blou Bulle, vanweë hul weeglêsnorre) wat per motorfiets ná sy skof by ʼn myn in Rustenburg na Loftus Versfeld moes reis om oefeninge by te woon.

Hoeveel van ons hedendaagse spelers is nog bereid om só op te offer om te kan rugby speel?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jannie ·

Dit is wat ek KARAKTER noem!! En daarom is NS se rugby op ‘n ander vlak!! Hier by ons gaan dit oor geld en politiek!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.