OP: Despatch looi Polisie; hofsaak gaan voort

despatchDespatch, wat Port Elizabeth Polisie se deelname aan die internasionale reeks om die Goue Beker teenstaan, het die Bobbies Dinsdag oortuigend 40-22 in die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagreeks geklop.

Adri Geldenhuys, `n oud-Springbok-slot en Despatch se hoofafrigter, sê die wedstryd in die WJ de Wetstadion op Despatch was hard en het `n algehele spanpoging van die wenspan geverg.

Billy Mentoor (buitesenter), Daviaan Swanepoel (regtervleuel), Juan Smit (losskakel), Baldwin McBean (buitesenter), Darren van Winkel (slot) en Bobby Dyer (haker) het Despatch se drieë gedruk. Smit het vyf verdoel.

Geldenhuys sê Despatch het drie o.21-spelers ingespan om hulle aan senior rugby gewoond te maak.

Die klub speel weer Saterdag tuis – dié keer teen Park.

Intussen gaan Despatch se hofaansoek voort dat hý pleks van Polisie die bond in die Goue Bekerreeks moet verteenwoordig.

Die aansoek is teen die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) en Polisie ingedien, maar André Vlok, Despatch se prokureur sê die OPRU staan nie die aansoek teen nie.

Polisie het wel sy verweer ingedien en die saak word 4 Augustus aangehoor, sê Vlok.

Die geskil spruit daaruit dat Despatch verlede jaar as die OP se Grootuitdaagkampioen aangewys is, maar Polisie aangevoer het dat daar onreëlmatighede was en met regstappe gedreig tensy hy (Polisie) tot kampioen verklaar word.

Die OPRU het hieraan toegegee, Polisie tot kampioen verklaar, en gevolglik as die bond se verteenwoordiger in die Goue Bekerreeks ingeskryf.

Despatch is nie daarmee gediend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.