OP keer terug na ou olifant-embleem

Die OPRU se olifant-embleem (links) en die een wat die “Mighty Elephants” vertoon het.

In teenstelling met die Blou Bulle wat vanjaar hul beroemde madeliefie op die ashoop gegooi het, is die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) glo besig met stappe om die bond se oorspronklike olifant-embleem in ere te herstel.

Daar is glo nog ʼn debat na watter kant die slurp moet wys, maar berigte wil dit hê dat die olifant gewis binnekort in ere herstel sal word.

Die OPRU is in 1888 gesig – sodat hy vanjaar 130 jaar oud is – en die swart olifant op die oorspronklike embleem het met sy slurp na links gepryk.

Met die koms van die beroepsbedeling het die span as die “Mighty Elephants” bekend gestaan, en ’n rooi olifant het na regs getrompetter.

In 2010 is die span na die OP Kings herdoop, na aanleding van die Southern Kings-franchise waarin die bond ʼn aandeelhouer was.

Die bond is intussen gelikwideer midde-in beskuldigings van ernstige finansiële wanpraktyke.

Dit word tans deur die SA Rugbyunie (Saru) geadministreer.

Die veranderde embleem raak, na verneem word, nie die Kings-franchise wat aan die internasionale Pro14-reeks deelneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie ·

Jammer Madeliefie is nie weg n paar jaar terug nie. Nou sal die blou koeie gelukkig met n nuwe trui speel. Bok embleem moet ook net gaan. Sien, met ons waardes in die land wat net so vinnig agteruitgaan as ons rugby is die verwydering van n trotse embleem by die bulle vir my n vars briesie. Gelukkig bet ek nie meer die pakket om rugby te kyk nie. Sal ook nooit weer geld mors om na n stadion te gaan nie

Veritas ·

Callie, ek is seker maar te oud om te verander maar ek het alle bande met Noord Transvaal rugby verbreek. Die gemors wat deesdae aan ons opgedis word is in elk geval nie die naam ‘Bulle rugby’ werd nie. So-ook die Springbokrugby, wat ons deesdae moet aanvaar as die beste wat SA kan bied, nie. Jukskei klink na die enigste sport waarin Suid-Afrika nog kan presteer. Of dalk nog kennetjie ook.

Johann cb ·

Ek woon my lewe lank in Port Elizabeth en sal die terugkeer na die ou embleem verwelkom!
Ongelukkig het sommige individue se smag na mag, ons rugby hier versuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.