OP-klubs wil Super12-eindstryd oorheers

spring rose`n Uitenhaagse derby en `n poging van Spring Rose om die eindstryd van die Oos-Kaapse Super12-reeks tot spanne uit die Oostelike Provinsie (OP) te beperk, kenmerk Saterdag die halfeindronde van die reeks.

Die heersende kampioen, Oos-Londen Polisie (Grens), se titel kom in gedrang as hy in `n ernstige uitdaging van sy heerskappy teen die OP-span, Spring Rose, te staan kom.

Polisie het Gardens van die OP verlede jaar in die eindstryd verslaan.

Die kampioen kon nie vanjaar dieselfde oorheersing handhaaf nie en het in `n groepwedstryd teen Gardens verloor. Sy ervaring van uitspeelwedstryde sal sake vir Spring Rose bemoeilik, en Polisie sal wil seker maak dat die Grens `n belang in die reeks behou.

Dit tel teen hom dat hy New Brighton in Nelson Mandelabaai toe moet reis en Spring Rose sal sy tuisvoordeel uitbuit.

Gardens het die indrukwekkendste in die kwarteindronde gevaar, maar het in Breakers van Queenstown waarskynlik die swakste teenstander gehad.

Hy het die span van Komani maklik geklop, maar sal nie op sy louere kan rus in sy kragmeting teen sy Uitenhaagse mededinger Progress op Rosedale nie.

Dit behoort `n vurige stryd vol hartstog op te lewer, tussen twee spanne wat goed teen mekaar opweeg, en die sleutel tot die eindstryd lê waarskynlik in dissipline en die uitskakeling van onnodige foute.

(Berig deur die OPRU verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.