OP-liga: Is Spring Rose se blus uit?

Die vraag kan tereg gevra word of Spring Rose se blus uit is ná sy goeie vertoning vroeër vanjaar in die Oos-Kaapse Super 12-reeks.

Die New Brightonse span het derde in die reeks tussen die Oostelike Provinsie en Grens se 12 topklubs geëindig, deur Progress van Uitenhage in ʼn uitspeelstryd met 29-25 te klop.

Saterdag het hy egter sy tweede verrassende nederlaag in drie wedstryde in die OP se Grootuitdaagreeks gely (die ander keer het sy teenstander punte afgestaan), toe Kruisfontein van Humansdorp hom met 24-18 verslaan het.

Die bond se Goue Bekerspan van verlede jaar, Port Elizabeth Polisie, is weer op die wenpad met ʼn oortuigende oorwinning van 41-5 oor Born Fighters van Somerset-Oos.

Middelland

♦ In die Middellandsubunie se liga het Bedford Cranes met 35-17 teen Cookhouse gewen.
Neil Bennett, die sekretaris van Bedford Cranes, sê die grondslag vir die sege is deur die Cranes se oorheersende agttal gelê.

“Hulle was absoluut genadeloos.”

Hy sê Benjamin Phyllis, Rechardt Peters, Rechardt Adonis en Phelelani Olifant het vir die wenspan uitgeblink.

Phyllis, Luluto Matutu, Bonga Mbali, Adonis en Peters het die Cranes se drieë gedruk, en Matutu en Odwa Calana het tussen hulle al vyf verdoel.

Bennett sê in die geheel gesien het die Cranes baie goed vir ʼn eerste ligawedstryd van die seisoen vertoon.

Ander uitslae –

Grootuitdaagbeker

United Barbarians (Patensie) 22, PE Harlequins 19; Progress 17, Star of Hope (Uitenhage) 12; Trying Stars (Alexandria) 36, Suburbans (Kleinskool) 12; Brumbies (Grahamstad) 40, Gelvandale Wallabies 31; NMMU 43, African Bombers (Zwide) 14; Park (PE) 33, Sentraal (Graaff-Reinet) 23.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.