OP-liga: Park sal verdediging moet opskerp

Die Port Elizabethse klub Park sal gewis sy verdediging moet opskerp as hy sy onoorwonne wegspring in die Oostelike Provinsie (OP) se Grootuitdaagreeks wil voortsit.

Hy het weliswaar Saterdag met 30-23 teen African Bombers gewen, maar die span se hoofafrigter, Marius van der Walt, gee toe dat die span homself met baie swak hantering en ongedwonge foute onder druk geplaas het.

“Die bal is doelloos geskop en Bombers het, aangehelp deur baie swak verdediging, ʼn paar verspot maklike drieë gaan druk,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Park het die vaste fasette oorheers, maar swak besluitneming en hantering het daartoe gelei dat die wedstryd nooit weklik gevloei het nie. Dit het Park se ritme heeltemal versteur.

“Dis nie ʼn wedstryd wat lank onthou sal word nie, juis omdat dit glad nie aan die gang kon kom nie.

“Park het sy taktiek in die tweede helfte verander. Dit het die gewenste uitewerking gehad, want dit het die knoop vir die span deurgehak.”

Oefense Bakolo, Quinton Haasbroek, Ryno Haasbroek en Jaco Swanepoel het vir Park se drieë gesorg.

Handré Snetler het met twee doelskoppe en strafdoele tien punte bygedra.

Ander uitslae –

Despatch 27, Suburbans (Kleinskool) 19; Star of Hope 24 (Uitenhage), Crusaders (PE) 9; Kruisfontein (Humansdorp) 19, United Barbarians (Patensie) 10; Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit 32, Sentraal (Koeberg) 25; Trying Stars (Alexandra) 22, Windvogel United 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.