OP-liga: Patensie verras teen Goue Bekerspan

United Barbarians van Patensie het Saterdag ʼn onverwagse sege in die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagreeks oor die bond se verteenwoordiger in die afgelope Goue Bekerreeks behaal.

Hy het Port Elizabeth Polisie met 21-17 in hul kragmeting op Patensie getroef.
Born Fighters het eweneens verras deur op Somerset-Oos met 24-21 teen Spring Rose van New Brighton te wen.

Park van Port Elizabeth is weer op die wenpad, en het die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in die Madibaz-sportstadion ʼn pak slae van 35-13 gegee.

Marius van der Walt, Park se hoofafrigter, sê sy span se groot agttal en die span se opgeknapte verdediging het die oorwinning verseker.

“Die voorspelers met veral Jaco Swanepoel en Ashley Viviers het uitgemunt. Dié tweetal het saam met die kaptein, Quinton Haasbroek, vir voorvoetbal gesorg.

“Die nuwe losskakel, Francois Tysse, het rigting aan die agterlyn gegee en koelkop onder druk gebly.”

Van der Walt sê die tuisspan het die wedstryd baie-baie goed teen die swaar Park-voorspelers begin.

“Die Madibas het toe hul taktiek verander, die bal in die hande gehou en byna ʼn baie goeie drie gedruk.

“Park het met twee opeenvolgende drieë deur Viviers en Tysse geantwoord, en ná volgehou druk het Haasbroek ook gedruk.”
Hy sê NMMU het hierna goed verdedig om teen rustyd net 13-21 agter te loop.

Moed gebreek

“In die tweede helfte het Park baie goed afgeskop deur ʼn puik drie te druk, en dit het die Madibaz se moed gebreek.

“Hulle het begin foute maak, en Park het die hele helfte in die studente se gebied geboer. Park het aanval op aanval van stapel laat loop, en sy voorspelers het ʼn baie goeie rolmaalbeweging afgerond om die eindteling 35-13 te maak.”

Haasbroek het ʼn tweede drie gedruk en Swanepoel het vir Park se ander drie gesorg.

Tysse het al vyf verdoel om sy bydrae op 15 te staan te bring.

NMMU se drie is deur Mihlali Gqibithole gedruk. Joel Waits het dit verdoel en met twee strafdoele geslaag.

Ander uitslae –

Grootuitdaagbeker

Gardens 44, Brumbies (Grahamstad) 12; Star of Hope (Uitenhage) 18, Gelvandale Wallabies 6; Windvogel United 11, Crusaders (PE) 5; Progress (Uitenhage) 39, Suburbans (Kleinskool) 14; Kruisfontein (Humansdorp) 31, Sentraal (Graaff-Reinet) 13; PE Harlequins 45, African Bombers 34.

Onder 21-liga

Gardens 32, Trying Stars (Alexandria) 5; NMMU 26, Progress 5; Despatch 57, Crusaders 0; PE Harlequins 28, Polisie 0 (gee punte).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.