OP-liga: Polisie kom stormsterk wind te bowe

pe polisieDie Goue Bekerklub Port Elizabeth Polisie moes `n wind van stormsterkte te bowe kom om Park Saterdag in die eerste ronde van die Oostelike Provinsie (OP) se Grootuitdaagreeks te klop.

Polisie het uiteindelik 30-6 gewen.

Alwyn Jordaan, `n woordvoerder van Polisie, sê die eerste helfte het as gevolg van die wind baie gelykop verloop, maar ná rustyd het Polisie se voorspelers die oorhand gekry en vier drieë gedruk.

Voorlangs het Hannes Huisamen, Stephan Deysel en Ferdie Gerber uitgeblink en agter Echart Jacobs.

Deysel (twee), Daantjie Vosloo en Eben Barnard het die wenspan se drieë gedruk. Jaun Smit het twee elk doelskoppe en strafdoele aangeteken.

Park se punte het van twee strafdoele deur die losskakel Schultz gekom.

progress-logo♦ In nog `n wedstryd in dié reeks het Progress vir Trying Stars van Alexandria oortuigend 39-13 verslaan.

Rodney Joseph, die hoofsekretaris en skakelbeampte van Progress, sê die wedstryd is in `n goeie gees beslis en Progress se vaste vyf het die grondslag vir die sege gelê.

Die wenspan se kaptein, Archie Gans, het twee drieë gedruk en Curnell Hendricks, Shaun Basson en Winston van Heerden een elk.

Curtis Sias het 12 punte met drie doelskoppe en twee strafdoele bygedra.

Karoo Noordliga

♦ Colesberg Wanderers en Murraysburg United het 15-15 gelykop gespeel in die Karoo Noord-subunie se liga. Colesberg se reserwespan het 5-0 gewen.

Tony Macpherson, `n woordvoerder vir Murraysburg sê dit was in wese `n wedstryd van twee helftes.

“Colesberg het die eerste helfte oorheers en twee drieë gedruk om rustyd 10-3 voor te loop.

“Murraysburg het teruggeveg en op sy beurt twee drieë gedruk om 15-10 die leiding te neem.

“Waarop Colesberg kort voor die eindfluitjie die gelykmakende drie gedruk het.”

Macpherson sê goeie hardlooprugby is gespeel, met albei spanne wat bereid was om die bal te dra.

Kyle Plaatjies en Roland Williams het Murraysburg se drieë gedruk en Jacques Booysen het vyf punte met `n skepdoel en `n doelskop bygedra.

Middellandliga

♦ Op Bedford het die plaaslike Crusaders die Cranes in `n derby in die Middellandse Subunie se liga 12-5 geklop.

Llewellyn Loots, `n woordvoerder van Crusaders en iemand wat rugby op die dorp al jare lank dophou, sê dit was een van die heel beste wedstryde tussen die twee Bedfordse spanne.

“Aanvallende rugby deur albei kante was kenmerkend van die wedstryd wat in `n hoë tempo gespeel is.

“Albei kante se lakwerk was puik, maar ek moet my hoed afhaal vir Tim Kasper van Crusaders vir sy reuseduikslae.”

Crusaders se punte het van twee strafdoele elk deur Elroy Arends en Crayton Vitelingum gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.