OP-liga: twee rooi en vier geel in ru wedstryd

pe polisieSake het soms maar ru daaraan toe gegaan toe Port Elizabeth Polisie en die plaaslike Harlequins mekaar Saterdag in die Adcockstadion in die stad die stryd in die Oostelike Provinsie (OP) se reeks om die Grootuitdaagbeker aangesê het.

Marius van der Walt, die hulpafrigter van Polisie, sê die Bobbies het 22-3 gewen in `n baie harde en geniepsige wedstryd.

“Die humeure het gereeld opgevlam en twee rooi en vier geel kaarte is uitgedeel.”

Hy sê Polisie se verwoede verdediging in die laaste tien minute het op die ou end die deurslag gegee.

“Dit was samespel en vedediging wat Polisie gehelp wen het. Hulle het in die skrums gesukkel, maar baie goed van die lynstane af gedryf. Die agterlyn was ook baie beter as dié van Harlequins, en het gevolglik drie van die vier drieë uit ope spel gedruk,” het Van der Walt aan Pale Toe! gesê.

Uitblinkers in die Bobbies-span was die haker Stefan Deyzel, die senters Alwyn Jordaan en Eckard Jacobs, Eben Barnard en Hannes Huisamen.

Jacobs (2), Deyzel en Barnard het Polisie se drieë gedruk. Juan Smit het een verdoel.

Erwin Williams het Quins se strafdoel behaal.

progress-logo♦ Progress van Uitenhage het Suburban 39-7 geklop.

Rodney Joseph, die hoofsekretaris van Progress, sê die voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê, met die slot Sanwell Jacobs wat `n doring in die teenstanders se vlees was.

Agterlangs het die senter Curnell Hendricks uitgeblink.

Winston van Heerden (2), Shaun Basson, Shevandre Swartbooi, Deon Plaatjies, Carlos Fredericks en Michael de Vos het Progress se drieë gedruk. Joel Swartz en Juandré Swartz het elk een daarvan verdoel.

madibaz-logo♦ Spring Rose van New Brighton het `n verswakte Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) 17-16 geklop.

Kevin Godfrey, `n woordvoerder van NMMU, sê 18 van sy spelers was vanweë beserings en deelname aan die Varsitybeker-sewes nie Saterdag beskikbaar nie.

Damion Wolvaard en Max Baphiwe was die studente se beste voorspelers teen Spring Rose en in die agterlyn het Luvo Claasen uitgeblink.

Ander uitslae –

Grootuitdaagbeker

Windvogel United 28, Crusaders 0; Brumbies (Grahamstad) 19, Gardens (Uitenhage) 17; Star of Hope (Uitenhage) 33, Gelvandale Wallabies 27; Born Fighters (Somerset-Oos) 25, Kruisfontein (Humansdorp) 15; Park (Port Elizabeth) 54, Evergreens Krakeel 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.