OP-liga: verswakte Polisie gee Progress slae

pe polisieDie Oostelike Provinsie se Goue Bekerspan, Port Elizabeth Polisie, het Saterdag sonder ses van sy gereelde spelers steeds daarin geslaag om in die Grootuitdaagreeks se Top10 met Progress van Uitenhage af te reken.

Marius van der Walt, die hulpafrigter van Polisie, sê dit was `n klipharde wedstryd waarin albei spanne aanvanklik sterk met die bal gehardloop het.

“Die kragmeting is deur rotsvaste verdediging gekenmerk,” berig hy.

“Polisie het die eerste punte aangeteken toe Eben Barnard pragtig afgerond het ná volgehoue druk op die Progress-doellyn. Die doelskop was mis.

“Progress se losskakel, Juandré Swartz, het twee strafskoppe misgekop en die ander skopper Deon Plaatjie een. Polisie was rustyd 5-0 voor.”

Van der Walt sê Plaatjie het in die tweede helfte `n strafskop oorgeskop om die teling 5-3 te maak.

“Toe dit lyk of dit op `n naelbytaffêre afstuur, het al twee spanne met lang skoppe probeer aanval. Daarna het Polisie `n voorspelerdrie gedruk ná aanhoudende druk op die Progress-doelyn. Lyle Lombard (voorryman) het agter die doelyn gaan kuier, vir Juan Smit om oor te skop en die telling 12-3 in Polisie se guns te maak.

“Jaco Pretorius, die jong Polisiesenter, het hierna `n skitterende individualistiese drie gaan druk nadat hy van die middelyn af deurgehardloop het om in die hoek oor te duik.”

Uitblinkers aan die Polisiekant was Randal Davids, Lyle Walters, Eckard Jacobs, Pretorius, Damien Moultrie, Wayne van Heerden en Stefan Deysel.

Aan die Progress-kant was dit Swartz, Plaatjies en die agsteman Athi Gans.

madibaz-logoIn nog `n wedstryd in dié reeks het Gardens (Uitenhage) die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) 31-20 geklop.

Kevin Godfrey, die NMMU se hoofafrigter, sê dissipline het die studente – wat hulself twee rooi kaarte en `n gele op die hals gehaal het – die wedstryd gekos.

“Met slegs 20 minute oor het die NMMU nog `n kans gehad om die kragmeting te wen, maar dit met `n verlies aan konsentrasie en swak dissipline weggesmyt.”

Godfrey sê tussen die voorspelers het Codey Basson and Xandré Vos goeie vertonings gelewer.

“Die agterspelers was gevaarlik en het die verdediging kwaai getoets. Veral Luan Nieuwoudt en Yamkhele Ngam het goed gespeel.”

crusaders peMarius Weyers, die president van Crusaders, het laat weet Sentraal (Graaff-Reinet) het nie span gestuur vir hul beoogde wedstryd nie.

Ander uitslae –

Grootuitdaagbeker

Top10

Despatch 85, PE Harlequins 12; Spring Rose (New Brighton) 31, Brumbies (Grahamstad) 12; Park (PE) 18, Star of Hope (Uitenhage) 18.

Onderste 10

Kruisfontein (Humansdorp) 15, Windvogel United 8;  Trying Stars (Alexandria) 63, Evergreens Krakeel 5; Gelvandale Wallabies 32,  African Bombers (Zwide) 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.