OP-liga: vir Blitsbok se Valers is dit Beker of niks

missionvaleMissionvale in die Oos-Kaap, die heimat van die Blitsbok Cecil Afrika, stel sy visier vir 2016 baie hoog.

Die klub is vanjaar tot die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) se reeks om die Grootuitdaagskild bevorder nadat hy verlede jaar nog om die Adamsbeker gespeel het.

Jose Jegels, die sekretaris van Missionvale, algemeen as die “Valers” bekend, sê die klub streef daarna om aanstaande seisoen tot die bond se topreeks, dié om die Grootuitdaagbeker, bevorder te word.

Hy sê die klub se uiters toegewyde spelers het in Januarie begin oefen en het dusver vanjaar al vyf sy vriendskaplike botsings gewen.

Die gemeenskapsgeskoeide klub is in die landelike deel van die Nelson Mandela- Metropolitaanse Munisipaliteit (NMMM) geleë en die twee plaaslike klubs, Mission United en Visitors, het in Januarie 2014 saamgesmelt om een sterk klub te vorm.

Die “M” en die “V” op die klubembleem verwys na die oorspronklike twee klubs.

Jegels sê die klub het talle talentvolle spelers en is vanjaar versterk deur `n paar wat tevore vir die Griffons se o.21-span gespeel het.

Cecil Afrika (Foto: blitzbokke.com)

Cecil Afrika (Foto: blitzbokke.com)

Die Valers is baie trots op die Blitsbok Afrika, wat steeds saam met sy moeder en ander famililede op Missionvale woon. Benewens die Blitsbokke – hy was in 2011 die internasionale sewesspeler van die jaar – het Afrika ook vir die SA Skole- en SA o.20-span uitgedraf.

Missionvale spog ook met `n o.15- en o.13-span en Jegels sê dit put geweldige steun uit die gemeenskap sodat gemiddeld 1 500 toeskouers per wedstryd opdaag, “die meeste van enige klub in die metrostreek”.

Hy sê die klub se slagspreuk “Valers of niks” eis die volle toewyding van spelers en ondersteuners, so nie moet hulle liefs wegbly.

Jegels, `n oudspeler wat ná `n besering tot die administrasie van die spel toegetree het, sê die klub het 75 lede met agt uitvoerende lede en agt gekwailifiseerde BokSmart-afrigters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.