OP-rugbypresident verloor Covid-19-stryd

André Rademan. Foto: Twitter.

André Rademan, president van die Oostelike Provinsie se rugby-unie, het gisteraand sy stryd teen Covid-19 verloor.

Die 62-jarige rugbyadministrateur het ’n paar weke gelede positief vir die virus getoets en hy was aan ’n ventilator gekoppel in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Port Elizabeth.

“André het in ’n moeilike tydperk vir bestendigheid in die Oostelike Provinsie gesorg en hy het altyd die belange van die provinsie bó sy eie geplaas,” het Mark Alexander, SA Rugby-president, in ’n huldeblyk gesê.

“Hy het die OP-skip na ’n veiliger hawe gestuur en dinge het baie beter begin lyk. Hy het baie hard gewerk om toe te sien dat dit beter met die unie gaan.”

Rademan is onlangs as president herverkies en volgens Alexander het dit gewys dat die plaaslike rugbygemeenskap vertroue in hom gehad het.

“André het nooit ophou werk vir die Oostelike Provinsie nie en sy afsterwe is baie hartseer nuus – nie net vir sy familie en vriende nie, maar ook vir rugby in die provinsie.”

Maroela Media het vroeg in Junie berig dat Peter de Villiers (OP-afrigter) en ’n hele paar van die unie se spelers positief vir die virus ná ’n opwarmingswedstryd vir die Curriebeker-reeks getoets het.

Dan het die voormalige kondisioneringsafrigter van die Springbokke in die De Villiers-era, Neels Liebel, ook twee weke gelede sy stryd teen Covid-19 verloor.

“Neels was iemand op wie jy altyd kon vertrou en hy het sy beste vir die spelers gegee. Hy was spesiaal vir enige span,” het die voormalige Springbok-breier in ’n huldeblyk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.