OP se mat onder hom uitgepluk

Dis een van die hartseer verhale van Suid-Afrikaanse rugby: die Oostelike Provinsie.

Die OP, gestig in 1888 en waar die eerste rugbytoets in 1891 op St. Georgespark (die krieketstadion en tuiste van die Crusaders-rugbyklub)  gespeel is, was jare lank een van die toetsunies van Suid-Afrikaanse rugby.

Maar  Vrydag gaan die OP van sy Superrugbystatus gestroop word wanneer die Suid-Afrikaanse Rugbyunie sy besluit bekend maak om die mat onder die Southern Kings en Cheetahs uit te pluk.

Ná jare lange se gestoei, gespartel en geworstel om die unie uit die finansiële en speelmoeras te haal, om van Cheeky Watson ontslae te raak, om die borrelende talent weer te ontwikkel, om die passie te herstel, gaan die volgende hoofstuk geskryf word.

Dit bly een van die tergende vrae waarom die OP nog nooit die Curriebeker kon wen nie. Griekwas het dit drie keer reggekry (1889, 1911 en weer in 1970). Grens het dit twee keer (in 1932 en in 1934) met die Westelike Provinsie gedeel, maar die OP kon dit nog nooit regkry nie.

Toerspanne het hul kragmetings met die OP gehaat, want dis wanneer die vonke gespat het. Dis nie manne wat die ander wang gedraai het nie. Wanneer iemand soos Denis Campher jou onderstebo geloop het, het jy nie dadelik opgestaan nie.

Daar was Springbokke by die dosyne, legendes soos Danie Gerber, Willa Delport, Gawie Carelse, Carel (Tossie) Fourie en Garth Wright …

En ook verskeie Springbokke wat in die Oos-Kaap gebore is en daar gespeel het, soos  Hannes Marais, Eben Olivier, Schalk Burger (senior), Hermanus Potgieter, Johan Heunis, Frans Erasmus, Hennie le Roux, Jacques Potgieter, Dewald Potgieter en nou ook Siya Kolisi, maar in ander unies naam gemaak het.

Ook spelers wat ongelukkig was om nooit Springbok te word nie, soos Gavin Cowley, Pote Human en Jan (Boelie) Serfontein.

Net toe dit lyk of die jare lange skade besig is om te herstel, gaan die gordyn weer sak.

Nie net vir die OP nie, maar ook vir die Vrystaatse Cheetahs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christo ·

Die 2 spanne wat verdien om weggelaat te word is die Sunwolves en Jaguares. Maar dit is ook so dat die Superrugby stelsel beter gewerk het toe dit net 14 of 15 spanne was. 5 NZ spanne, 4 Aussie spanne en 5 SA spanne. Almal speel teen almal.

Nico ·

Superrugby is ‘n sirkus. Dalk is dit beter om in die Pro 12 te speel. Dit lyk ommers of daar meer gelyke kompetisie is. Haetseer is net dat ryk provinsies reeds die 2 spanne begin plunder het. Daar was altyd ‘n Cheetahspan met ‘n Cheetah uitnodiging soan ( Haaie). Nou gaan daar 2 Cheetah uitnodiging spannevwees die Stormers kom by.

Jeannette ·

Ag, sport – ALLE sport – is deesdae afgewater en opgekook. Van motorsport (F1) tot Superugby, tennis tot krieket (T20 en ‘day/night’ asook toetse) – noem maar op. Wimbledon het pas begin, maar die “bookies” het reeds bepaal dat Federer gaan wen; baie van die T20’s word vooraf al bepaal wie wen (en dit is meesal Indië of Indiese spanne); by F1 is dit net tussen Vettel en Hamilton – net wanneer daar ongelukke is of die veiligheidsmotor uitkom, raak dit bietjie meer interessant. Superugby raak so vervelig dat ek halfpad deur die Stormers se wedstryde aan die slaap raak of later vir die ander span ‘cheer’, soos met Saterdag se Lions-wedstryd.

Dirk Bester ·

OP moes nooit deel gewees het van Super rugby nie, want hul was nog altyd substandaard. Verder het hul nog geen ontwikkeling in rugby gedoen nie, deur al die tye, want hul jong spelers word nie behou nie. Eerstens moes hul die hoofsaaklike swart spelers korps ontwikkel het, wat hul nie gedoen het nie. Nou speel met ander streke se oorskiet wit spelers. Geen ontwikkeling nie.. Daarom het hul nooit reg gehad om in super reeks te speel nie. So SARU maak nou net reg wat hul eerstens verkeerd gedoen het

Nico K ·

Ek is self ‘n oud Oos-Kapenaar en het jare die OP ondersteun, maar hulle het nooit verdien om in die superreeks te speel nie, want op die veld het hulle nie presteer nie. Hulle was 1 van die 6 toetsunies wie se status verskans was in die A-afdeling van die Curriebeker na 1991. En toe die proffesionele era aanbreek in 1996 het hulle verdwyn. Spanne soos Griekwas en Pumas het nog in ‘n mate hul man gestaan en SWD, Boland en die Valke het sporadies goeie jare gehad, maar die OP kon nooit na 1996 enige iets maak nie.

Lol ·

Dieselfde situasie met Bulldogs wat nie talent kan behou nie. Borge ook bang vir twyfelagtige administrasie en bestuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.