Opdrafbuiging in Superrugby ná gebreekte nek

JD Schickerling (Foto: WP Rugby)

JD Schickerling (Foto: WP Rugby)

`n Jaar en sewe maande nadat hy sy nek in `n rugbywedstryd gebreek het, maak `n 20-jarige slot sy buiging in die Stormers se Superrugby-opdrafspan.

Dis die jongste hoofstuk in die wonderbaarlike herstelverhaal van JD Schickerling, `n gewese SA Skole- en SA o.20-slot, wat sy nek in Augustus 2014 op Loftus Versfeld in `n wedstryd vir die Westelike Provinsie (WP) se o.21-span teen die Blou Bulle gebreek het.

Twee operasies en 14 maande later was hy in Oktober 2015 terug in die WP se o.21-span en in Januarie vanjaar is hy in die Stormers se Superrugbygroep ingesluit – selfs voor hy Curriebekerrugby gespeel het. Hy het in 2014 `n enkele wedstryd vir die WP van die bank af in die reeks om die Vodacombeker gespeel.

Schickerling vervang die Springbok Pieter-Steph du Toit wat `n blaaskaans kry en nie saam Argentinië toe is vir die kragmeting in Buenos Aires teen die Jaguares nie.

Die boorling van Calvinia se insluiting is een van vier veranderinge in die Stormers se span.

Die haker Scarra Ntubeni is die eerste keer vanjaar in die opdrafspan en Bongi Mbonambi gaan die bank vir hom warm hou.

Schalk Burger is Saterdag `n impakspeler, met die flank Sikhumbuzo Notshe terug in die opdrafspan en Nizaam Carr wat agsteman toe skuif in Burger se plek.

Jan de Klerk neem Schickerling se plek op die bank in.

Agterlangs is net een verandering met die jong blits Leolin Zas in die beseerde Dillyn Leyds (knie) se plek in die opdrafspan en Huw Jones in Zas se plek op die bank.

Robbie Fleck, die Stormers se hoofafrigter, verwag `n taai kragmeting, maar sê die Stormers is vasbeslote om beter te speel as verlede Saterdag toe hulle die Brumbies (tot erge argwaan van die Aussies) 31-11 geklop het.

Die span –

15. Cheslin Kolbe, 14. Kobus van Wyk, 13. Johnny Kotzé, 12. Juan de Jongh (medekaptein), 11. Leolin Zas, 10. Kurt Coleman, 9. Nic Groom, 8. Nizaam Carr, 7. Siya Kolisi, 6. Sikhumbuzo Notshe, 5. JD Schickerling, 4. Eben Etzebeth, 3. Frans Malherbe (medekaptein), 2. Scarra Ntubeni, 1. JC Janse van Rensburg. Bank: 16. Bongi Mbonambi, 17. Oli Kebble, 18. Vincent Koch, 19. Jan de Klerk, 20. Schalk Burger, 21. Louis Schreuder, 22. Jean-Luc du Plessis, 23. Huw Jones.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.