Opkomende Bok se skepdoel red Roemenië-kampioen

Jody Rose – wedstrydwenner. (Foto: Facebook)

ʼn Skepdoel deur ʼn gewese Opkomende Springbok in die laaste beweging van ʼn wedstryd in die slotronde van die Roemeense Superliga het sy span die oorwinning in ʼn spannende kragmeting besorg.

Jody Rose (losskakel) se geleerde skopvoet het verseker dat die Roemeense kampioen,Timosoara Saracens, die wedstryd teen die weermagspan Steaua Bucuresti met 18-16 wen.

Dit is die soldate se eerste Superliga-nederlaag vanjaar.

♦ In nog ʼn wedstryd in dié reeks het Darron Baron twee doelskoppe tot CSM Bucuresti se sege van 54-7 oor Dinamo Bucuresti bygedra.

Baron, een van die voorste puntemakers in die reeks, het die Vrystaat-vyftiental in die Curriebeker-opstelronde verteenwoordig.

Engelse Premierliga

♦ Die Springbok Willie le Roux (heelagter) het ʼn drie vir Wasps gedruk in sy sege van 39-22 oor Newcastle in die Engelse Premierliga.

♦ David Ewers (flank) het ʼn drie vir die verdedigende kampioen, Exeter, teen Harlequins gedruk.

Exeter het die kragmeting met 42-17 oorheers.

Franse Top14-liga

♦ Die Bok Ruan Pienaar (skrumskakel) het twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir Montpellier teen Lyon aangeteken, en Nico Janse van Rensburg (slot), wat Superrugby vir die Bulls gespeel het, het ʼn drie gedruk.

Hulle kon egter nie voorkom dat Lyon die wedstryd met 32-24 wen nie.

Montpellier se Boksenter Jan Serfontein is met ʼn geel kaart gestraf.

♦ Nóg ʼn Bok, Flip van der Merwe (slot), het die eerste van die wenspan se drie drieë in Clermont se sege van 36-26 oor Toulouse gedruk.

♦ Rory Kockott (skrumskakel) het ʼn doelskop en ʼn strafdoel tot Castres se oorwinnining van 54-3 oor Oyonnax bygedra.

Kockott, ʼn Franse toetsspeler, het die Lions en die Sharks in die Superrugbyreeks verteenwoordig.

Franse ProD2-eindstryd

♦ Perpignan is ná vier jaar se tweedevlakrugby terug in die Franse Top14-liga nadat hy Grenoble Sondag met 38-13 in die ProD2-eindstryd verslaan het.

Voor hul afskuiwing het die Kataloniërs 103 jaar lank in die Franse topliga gespeel en dit sewe keer gewen.

Perpignan was een van die eerste Franse klubs wat ʼn speler uit Suid-Afrika gelok het toe die Noord-Transvaalse slot Barend Britz in die jare tagtig daar geen speel het.

Britz woon steeds in dié stad, waar hy ʼn gewilde kuierplek bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CdV ·

Dankie Pieter en Maroela vir die vars nuus hoe Suid Afrikaners in rugby oorsee vaar. Ook vir die nuus oor nuwe Suid Amerikaanse super ses. Doen so voort. Min ander media doen dit en as hul die slag iets publiseer is die nuus ‘n week of langer oud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.