OPRU herskik klubligas om te besnoei

opruDie Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) het sy ligastruktuur wesenlik herskik en vaartbelyner saamgestel in `n ernstige poging om op reiskoste te besnoei.

Sharief Gamiet, die bond se hoofbestuurder, sê verlede jaar se vier vlakke is tot drie verminder en die reeks om die Adamsbeker is geskrap.

Benewens die reeks om die Grootuitdaagbeker word daar op die tweede vlak om die Grootuitdaagskild meegeding. Die derde vlak word in subunieverband beslis.

Gamiet het aan Pale Toe! gesê die Super12-oorgrensreeks, waarin klubs van die OP en Grens verlede jaar meegeding het, is voorlopig van die baan, maar die rugbylui onderhandel steeds met die borg, die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur (DSOKK), oor die moontlike voortsetting van die borgskap.

Hy sê die proefneming verlede jaar met `n o.20-reeks vir die Grootuitdaagklubs het misluk en die o.21-reeks op Woensdagaande word heringestel.

Die reeks om die Grootuitdaagbeker skop op 20 Februarie af en die res op 5 Maart.

Gamiet sê die bepalings is gereed, maar moet eers deur die uitvoerende goedgekeur word voor dit uitgereik word.

♦ Kragtens die nuwe struktuur word die Grootuitdaagbekerreeks in twee afdelings van agt spanne elk beslis en sluit dit twee nuwelinge, Star of Hope (Uitenhage) en Born Fighters (Somerset-Oos), in.

Die A-afdeling bestaan uit die Brumbies, Crusaders, Despatch, Gardens, Progress, Star of Hope, Trying Stars en Windvogel. Die B-afdeling se klubs is African Bombers, Born Fighters, Harlequins, Kruisfontein, NMMU Madibaz, Park, Port Elizabeth Polisie en Spring Rose.

Die reeks om die Grootuitdaagskild word in vier afdelings beslis waar Afdelings A, B en C nege spanne elk bevat en Afdeling D tien.

Op subunievlak is daar agt groepe.

Port Elizabeth Metro het twee, met onderskeidelik agt en nege spanne elk; Uitenhage en Distrik het tien spanne; Suidoostelike Distrikte (Sedru) en Middelland het nege elk; Karoo-Noord en Karoo-Suid het vyf elk; en Kouga/Koukamma tien.

♦ Wat die toekoms van 2015 se Hoëprestasieliga tussen die universiteite van die OP en Grens en die twee bonde se rugbyakademies betref, sê Gamiet die studenteklubs sal self daaroor besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.