Ou manne steel jonges se donder in nuwe reeks

Die nuwe Engelse Premierliga-rugbybeker is eintlik ingestel om jong talent te ontwikkel, maar in die eerste ronde was dit die ouer garde wat die jonges se donder gesteel het.

Dié nuwe uitklopreeks vervang die afgeskafte Anglo-Walliese Beker, en is daarop gerig om jonger Engelse klubspelers die geleentheid op blootstelling in senior geledere te gee.

Die ou reeks – waarheen Griekwas en die Pumas glo gemik het – het in die slag gebly toe die Walliesers weggebreek het om hul eie o. 23-liga in te stel.

♦ Die voorste puntemaker tussen die Suid-Afrikaners was Demetri Catrakilis (29), wat 14 punte vir Harlequins op die telbord geplaas het, en hom gehelp het om Bath met 27-19 te verslaan.

Die losskakel, wat die meeste van sy Superrugby vir die Stormers gespeel het, het ʼn doelskop en vier strafdoele behaal.

♦ Francois van Wyk (27) het sy eerste punte vir Northampton aangeteken deur twee drieë teen Bristol te druk.

Sy span het met 51-24 gewen.

Hy het vir die Westelike Provinsie gespeel voordat hy die Western Force (Australië) in Superrugby verteenwoordig het.

♦ Twee Springbokke, Francois Hougaard (30) en Francois Venter (27), het vir Worcester gedruk in sy sege van 35-5 oor Sale.

♦ Eweneens in dié reeks, het die Bokveteraan Schalk Burger (35) ʼn dryfmaalbeweging met ʼn drie afgerond in Saracens se oorwinning van 29-21 oor Leicester.

♦ Daar was darem één jongeling wat die telbord gehaal het.

Dominic Coetzer, wat verlede jaar nog aan die Westelike Provinsie se rugby-akademie verbonde was, het in sy eerste verskyning vir Gloucester een van dié klub se drieë in sy sege van 31-7 oor Wasps gedruk.

Engelse Kampioenskap

♦ Koch Marx (buitesenter) het ʼn drie vir Jersey in sy oorwinning van 28-21 oor Richmond in die Engelse Kampioenskap gedruk.

Hy het die Lions ʼn slag in die Superrugby-reeks verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.