Ou-ou rugbyles: rondomtalie is nie uitspeel nie

ʼn Rondomtaliewedstryd is een ding, ʼn uitspeelwedstryd is ʼn perd van heeltemal ʼn ander kleur.

Dit was Saterdag op Barkly-Oos die Eur-Africans se beurt om dié ou-ou rugbyles te leer, toe die plaaslike Black Jacks hom met 36-24 uit die wedloop gehaal het om die Vrystaat-platteland se liga te wen, nadat die span van Aliwal-Noord in die ligakragmeting tussen die twee baas was.

In die ander halfeindstryd op Burgersdorp het Hibernians die besoekende Aliwal Buffels met 53-39 verslaan.

Charlie May, die sekretaris van die Vrystaatse Subunie, laat weet dis die hoogste telling in die subunie se geskiedenis.

In die Plaathalfeindstryd het Crocodiles (Burgersdorp) met 36-23 met Venterstad Rovers afgereken.

Scorpions van Gariep het tuis sy eerste wedstryd in die liga gewen, toe hy Venterstad Stoele met 19-7 geklop het.

Barkly kom gevolglik eerskomende Saterdag in die eindstryd om die George Nelbeker op sy tuisveld teen Hibernians te staan.

May sê die spelers van die wenspan (goud) sowel as die naaswenners (silwer) sal die eerste keer met medaljes beloon word.

Die Buffels en Eur-Africans speel op eersgenoemde se veld op Aliwal-Noord om die M&B-skild, en die wenspan (derde plek) sal bronsmedaljes ontvang.

Wat die onafgehandelde halfeindstryd in die Plaatafdeling betref, meet Universals (Colesberg) tuis kragte teen Zastron Vultures.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.