Oud-Bok Johan le Roux se een sekonde van waansin

’n Ontstoke Sean Fitzpatrick praat met die skeidsregter ná die insident. Foto: Youtube.

ʼn Mens wonder steeds wat in 1994 kon gebeur het as die gewese Springbokstut Johan le Roux nie destyds aan die All Black-kaptein Sean Fitzpatrick se oor geknibbel het nie.

Le Roux het in die tweede toets in Wellington, wat die Bokke met 9 – 13 verloor het, koerantopskrifte dwarsoor die wêreld gehaal toe hy Fitzpatrick aan die linkeroor gebyt het.

Fitzpatrick, die ewigdurende optimis, het dadelik na die skeidsregter Brian Stirling gehardloop en die bloedstraaltjie aan sy oor uitgewys.

Vergeet daarvan dat hy Le Roux in die rug geloop het, vergeet daarvan dat hy hom vasgehou het sodat hy nie by die losskrum kon uitkom nie.

Jannie Engelbrecht, die Springbok-bestuurder, het na die wedstryd baie ferm opgetree en gelas dat Le Roux dadelik huis toe gestuur moet word, nog voordat hy deur die Nieu-Seelandse Rugbyunie uitgewys kon word.

Maar Le Roux het op 25 Junie 1994, presies ʼn jaar voordat die Wêreldbekertoernooi op Nuweland op 25 Mei 1995 begin het, in ʼn tugverhoor in Wellington verskyn wat hom vir 19 maande geskors het.

Niks fout daarmee nie as dit konsekwent toegepas word, maar hoekom het Kevin Yates, die stut van Bath, net ʼn skorsing van ses maande op die lyf geloop nadat hy Simon Fenn se oor byna afgebyt het?

Fenn moes 25 steke ontvang en die erns van die besering is tydens die tugverhoor is ag geneem.

Hoekom is die gewese Engelse kaptein Dylan Hartley net vir agt weke geskors nadat hy Stephen Ferris se vinger byna afgebyt het?

Hoekom is die Fidjiaan Sisa Koyamaibole net vir 12 weke geskors nadat hy Declan Danaher aan sy arm gebyt het (daar was 18 tandemerke aan Danaher se arm).

Hoekom is die Argentyn Leonardo Senatore net vir nege weke geskors nadat hy die Springbok-slot Eben Etzebeth aan die arm gebyt het?

ʼn Mens wil nie altyd ou koeie uit die sloot grawe nie, want Le Roux moes sekerlik pa staan vir sy oomblik van waansin.

Maar het die voorval nie regstreeks tot die afdanking van die destydse Bok-afrigter Ian McIntosh ná die toer gelei nie?

Die Bokke het net een van hul 10 provinsiale wedstryde verloor en die derde toets het gelykop geëindig, hoewel hulle nie baie oortuig het nie.

McIntosh se toerspan is deur sewe keurders gekies en hoekom moes hy alleen die prys betaal? Wat dan van die kaptein, Francois Pienaar?

ʼn Mens sal nooit weet nie, maar in hierdie tye wanneer jy oor koeitjies en kalfies dink, wonder jy soms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
david

Ek onthou die insident nog goed. Op die TV destyds kon mens duidelik Fitzpatrick se streke sien. Hy het blatant verhinder dat le Roux weer by die spel uitkom deur ho vas te hou. punt. Of le Roux geslaan of geskop, of gebyt het, is nie die punt nie. Hy wou loskom uit Fitzpatrick se onwettige greep–en die Skeidsregter het niks gedoen om agter die waarheid te kom nie. Jannie Engelbrecht was deur die Nieu Seeland se pers geboelie om teen le Roux op te tree. nadat hy reed geskors was. Na my mening moes Engelbrecht (en die SA Rugbyraad)… Lees meer »

BARNEY

Twee dinge is waar, die bokke word altyd swaarder gestraf as ander lande en is nie die gunsteling span onder baie skeidsregters nie.
En alhoewel die All Blacks n goeie span is so hulle n klomp babatjies wat die refs besig hou met hulle langs trane en klagtes… Hulle is seker die wereld span wat die meeste met moord weg kom ook.

Schalk

Johan le Roux moes van beter geweet het. Hy het sy loopbaan weggesmyt met ‘n dom, impulsiewe aksie. Hy sou sekerlik in die wereldbeker span van ’95 gewees het. Die All Blacks, saam met die Ingelse, is die grootste baba’s van wereldrugby. Hou van uitdeel, aan die ontvangkant skree hulle onmiddelik. En wanneer hul opponente die pap in die voorspelers lekker dik aanmaak val hul gou uitmekaar. Kyk die ’07 en ’19 wereldbekers goeie voorbeelde daarvan.