Oud-Bolander rek wéér sy Kanadese rekord

De Wet van Niekerk – vierde toetsdrie. (Foto: YouTube)

Die gebore Bolander DTH van der Merwe het Saterdag nog ʼn toetsdrie gevoeg by die rekordgetal wat hy reeds vir Kanada gedruk het.

Sy span het die wedstryd in die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK) in die Westhills-stadion in Langford, Kanada, in gietende reën met 45-5 gewen (rustyd ).

Vir die vleuel wat amper 32 jaar gelede in Worcester gebore is, het dit sy 32ste drie in sy 51ste toets opgelewer.

CTV News het Van der Merwe voor die wedstryd as Kanada se beste speler bestempel, en die Kanadese afrigter Kingsley Jones (tien toetse as flank vir Wallis) reken hy sal sy man maklik in vlak-1-toetsrugby staan.

ʼn Ander Suid-Afrikaner, De Wet van Niekerk (23), het Brasilië se enigste drie gedruk – sy vierde in 15 toetse.

Hy was voorheen aan die Stellenbosse rugbyakademie verbonde, en ʼn groot toekoms word in die Amerikaanse media vir hom voorspel.

♦ Ná Saterdag se ronde is slegs Amerika, wat deur die Suid-Afrikaner Gary Gold gebrei word, nog onoorwonne in die ARK; en die Yanks loop met ʼn enkele punt teen die Argentynse Vyftiental voor op die punteleer.

In teenstelling met die nat weer in Langford, was dit ʼn snikhete dag met bykomende waterbreuke toe die Amerikaanse Arende die Chileense Kondors in die Titan-stadion in Fullerton, Kalifornië, met 45-13 afgestof het.

Die 19-jarige Suid-Afrikaans gebore Ruben de Haas (skrumskakel) het sy toetsbuiging vir Amerika van die bank af gemaak.

Sy pa, Pieter, en oupa, Gerard, het op hul dag gesag in die Curriebekerreeks afgedwing.

♦ In Punta del Este, Argentinië, het die tuisspan Uruguay sy eerste nederlaag in vanjaar se reeks toegedien deur die kragmeting met 34-17 te wen.

Die wenspan was rustyd met 15-12 voor nadat die besoekers in die eerste halfuur ʼn voorsprong van 12-0 opgebou en gehandhaaf het. Die Kiewiete het die voortou nog ʼn slag herwin en dit was eers tien minute voor die einde dat die tuisspan werklik die oorhand kon kry.

Die Argentyne het volop foute begaan, en dit was op die ou end hul oorheersing in die skrums wat die deurslag gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.