Oud-Bolander trek aandag in Spaanse liga

ʼn Gewese Bolandse Curriebeker-speler het die aandag getrek in die jongste ronde van die Spaanse Liga van Eer deur nege punte vir sy span te behaal.

Christian Rust (losskakel) het ʼn drie en twee doelskoppe vir SilverStorm El Salvador behaal in sy sege van 39-12 oor Bizkaia Gernika.

Hy het ook die Valke in die opstelronde vir die Curriebekerreeks verteenwoordig voordat hy na Spanje verhuis het.

♦ JW Bell (heelagter), wat Superrugby vir die Lions gespeel het, het ʼn drie vir VRAC Quesos Entrepinares teen Getxo Artea gedruk.

Sy span het die kragmeting met 41-12 gewen.

♦ Richard Stewart (buitesenter) het ʼn drie vir Completense Cisneros in sy nederlaag van 30-49 teen La Vila gedruk.

Stewart het vir die Ikeys in die reeks om die Varsitybeker gespeel.

Italiaanse Super 10-reeks

♦ Suid-Afrikaners het vir albei spanne punte behaal in ʼn botsing tussen Rovigo en I Medicei in die Italiaanse Super 10-reeks, wat eersgenoemde met 28-6 ingepalm het.

Jacques Momberg (haker), ʼn gewese Curriebekerspeler van die Pumas, het ʼn drie vir die wenspan gedruk, en die Blitsbok Stef Basson (heelagter) het met ʼn skepdoel vir I Medicei geslaag.

♦ In nog ʼn kragmeting in dié reeks het Adam Wessels (slot) ʼn drie vir San Dona teen Fiamme Oro Roma gedruk.

Laasgenoemde was met 29-20 baas.

Wessels het Vodacombeker-rugby vir die Sharks-vyftiental gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.